

ADVERTISEMENT:

News Date: 31 October 2008
Nog ‘n inbraak by ‘n sakeonderneming in Louis Trichardt se industriële gebied het die vermoede versterk dat die vlaag inbrake die werk van ‘n sindikaat is.
Die jongste slagoffer was Newco Achaar in Unikastraat. Booswigte het Sondagaand by die onderneming ingebreek, die groot staankluis oop geforseer en met etlike duisende rande op die vluggeslaan.
In die Zoutpansberger van 29 Augustus het daar ‘n berig verskyn oor die vlaag inbrake by ondernemings in onder meer hierdie gedeelte van die dorp. In ‘n kwessie van ‘n paar weke het talle inbrake plaasgevind. Ondernemings wat deurgeloop het, was onder meer Ferdie’s Paints, LTT Bolt & Nut, Alert Staal, Afrox en CTM in die Makhado Crossing-kompleks. Al hierdie besighede het beskik oor ‘n alarmstelsel en gewapende reaksie, maar in nie een van die gevalle kon die betrokke sekuriteitsfirmas die inbrake verhoed nie. In ten minste drie van die gevalle was die sekuriteitsfirmas nie eens bewus daarvan dat daar ingebreek is nie, totdat hulle die volgende oggend deur die ondernemings van die inbrake in kennis gestel is. Reeds toe is die vermoede uitgespreek dat dit die werk van ‘n sindikaat kan wees. Meer onlangs het Isofo ook deurgeloop.
Die modus operandi van die booswigte wat by Newco Achaar ingebreek het, was soortgelyk die van die inbrake by bogenoemde sakeondernemings. Ook Newco het beskik oor ‘n alarmstelsel wat wel Sondag omstreeks 20:00 afgegaan het, maar die sekuriteitsmaatskappy kon geen onraad merk nie. Nadat die wagte onttrek het, is ‘n alarm-ogie binne die Newco-gebou afgeruk, waarna die misdadigers begin het om die kluis se buitenste 4mm-dik staalwand met ‘n hoekslyper oop te sny. Daarna het hulle die 80mm betonlaag binne die kluis weggekap om toegang te kry tot die sluitmeganisme. Nadat die sluitmeganisme oop geforseer is, het die booswigte doodeenvoudig die kontant, wat na bankure ingebring is, uit die kluis verwyder.
Die bestuurder van Newco Achaar, mnr. Willem Muller, het Maandagoggend met oopsluittyd op die skade afgekom. Hy meen dit moes hulle tussen drie en vier ure geneem het om die kluis oop te kry, sonder dat enige iemand dit agtergekom het. Hyself glo vas dat dit die werk van ‘n sindikaat is.
“Dit was nie net een persoon nie. Een persoon kan onmoontlik daardie kluis skuif, wat hulle wel gedoen het,” het Muller gesê.
Intussen is die saak by die polisie aangemeld, maar teen druktyd was daar nog geen terugvoer nie. Sakeondernemings in die area word gemaan om strenger veiligheidsmaatreëls toe te pas.Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
