ADVERTISEMENT:

 

Palm Motors-rower uiteindelik agter tralies

 

News  Date: 31 October 2008

 

Frans Maepa Makoka (27) van Mathleleng Hospitaal, Huis no. 627, is op Maandag, 27 Oktober, in die plaaslike streekhof op Louis Trichardt skuldig bevind op aanklagte van gewapende roof en die besit van ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie.

Die skuldigbevinding spruit uit ‘n voorval op 29 November, 2007, toe drie mans ‘n geldkis geroof het by Palm Motors deur ‘n sekuriteitswag met ‘n vuurwapen aan te hou. Ongelukkig vir die drie was daar ‘n polisieman van diens af wat die roof gesien het en die drie agterna gesit het. In hulle haas om die roof uit te voer, het die manne ook nie gewag tot die kis vol geld was nie en het toe met ‘n leë kis spore gemaak.

Die rowers het toe tot aan die onderpunt van Erasmusstraat, naby die N1, met ‘n gesteelde voertuig en die geldkis gejaag, met die polisieman agterna. Daar het hulle uit die motor gespring en die veld in laat spaander, met die vuurwapen en geldkis nog in die motor. Die polisieman het gedurende die jaagtog die plaaslike polisiestasie geskakel en hulle het ‘n honde-eenheid uitgestuur om die veld te fynkam. Een van die rowers, Makoka, is toe aangekeer.

Makoka is 10 jaar gevangenisstraf, waarvan vyf jaar opgeskort is, opgelê vir die roof, plus ‘n verdere vyf jaar vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen, asook nog 12 maande vir die onwettige besit van ammunisie. Hy sal dus effektief 11 jaar uitdien.

 

Written by

Nic Hoffmann

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines