ADVERTISEMENT:

 

Oral is groot dankbaarheid vir die reën wat die naweek geval het. Dit word as ‘n “goeie begin” bestempel en die wolke word met groot verwagting dopgehou. Teen spertyd Dinsdag het die wolke mooi opgesteek oor Louis Trichardt.

Welkome reën bring verligting in Soutpansberg

 

News  Date: 14 November 2008

 

Orals waar welkome reën die naweek geval het, word dankbaarheid en verligting uitgespreek. Noord van die Soutpansberg raak die situasie egter kritiek.

Vrydag (7de) se reënbuie het op sommige plekke gepaardgegaan met baie swaar  weer en haelbuie.

Op mnr. Peter Knott se plaas 12km buite Louis Trichardt op die Witvlagpad, het daar Vrydag 50mm binne‘n kwartier geval.

“Die tuin is heeltemal deur die hael vernietig. Ons het bakkievragte vol blare en dooie blomme weggery, maar ons is baie dankbaar vir die reën,” sê me. Maureen Knott. Hulle het 70mm vir die hele naweek gemeet.

Die haelbui en stormwater is baie beslis geniet deur die groep Graad 7’s van Laerskool Louis Trichardt wie se afskeid by Ultimate Guesthouse met Vrydag se storm saamgeval het.

“Die water het gestroom,” sê Vinette van Heerden, ‘n Graad 7 leerder. “Met middagete was dit op sy ergste. Die meeste van die kinders het in die reën gespeel en mekaar met die hael gegooi,” voeg Hanri Roos by.

Die Levubu-gebied het gemiddeld so 40mm reën die naweek gekry. Die reën is voorafgegaan deur versengende hitte waarin plant en dier swaargekry het. Dit is gevolg deur ‘n paar koel dae, en toe kom die lekker reën …

“Van Vrydagmiddag laat tot Sondagoggend was daar lekker sagte, deurdringende reën. Daar was wel donderweer en dies meer, maar daar waar die swaar weer was, was die buie baie gelokaliseerd. Maar die reën wat regtig saak gemaak het, was die uitgerekte, langdurige reën wat ons gekry het,” sê mnr. Dries Joubert van Levubu.

In hierdie subtropiese produksie gebied gaan die piesangs en maka-damia neute baie by die reën baat.

“Die vrugte het begin swaarkry met die hoë temperature, maar die vrug wat daar geset is, moet ontwikkel en hierdie reën sal dit definitief vir daardie vrugte baie moontlik maak,” sê Joubert.
Sekere gebiede in die Dendron- en Mara-omgewing het ook om en by 40mm reën gehad.
Volgens inligting het daar tussen 10 en 12mm by Alldays geval.

“Dit is nie voldoende vir die hergroei van die bome en gras nie. Ons sit met ‘n weidingsnood oral in die ekstensiewe gebiede,” sê Joubert.

Mnr. Howard Knott van Greater Kuduland Safaris sê dat daar nog niks reën in die berge naby Tshipise geval het nie. Hulle voer die wild al vir amper drie en half maande.

“Daar is wildvrektes onder die blaarvreters, soos die koedoes, njalas en elande. Die gasvreters kom nog reg. Hou in gedagte dat ons 21 Desember verlede jaar laas noemenswaardige reën gehad het,” sê Knott. Hy is egter vol hoop dat hulle ook teen die naweek sal glimlag soos diegene wat al reën gekry het.

Een boer wat alreeds glimlag, is mnr. Gideon Meiring, wat in  Mopanie 17 mm gemeet het.
“Die bome op Mopani gaan bot en dan gaan die koedoes kos hê. Ons is baie verlig oor die reën,” het Meiring gesê. Volgens sy inligting is daar na Waterpoort se kant toe 30mm reën gemeet.

  “Ons sien nou weer kans vir vorentoe,” sê mnr. Barries Barnard van Bandelierkop. Hy is net so verlig dat daar uitkoms vir die blaarvreters gaan wees.

“Wat die beeste betref, gee ons aanmekaar hoendermis en die koeie kalf nou. Die beeste is in ‘n redelike kondisie, hoewel nie heeltemal wat dit moet wees nie,” sê Barnard.

Terug in die dorp, is daar by die munisipale reënmeter 27,4mm reën gemeet vir die afgelope naweek. Vóór die naweek was die totale reënval vir September, Oktober en November ‘n skrale 13mm. Sommige inwoners het egter meer reën in hul reënmeters by hul huise opgevang. In die nuwe uitbreiding rapporteer een inwoner 46mm vir die naweek. By die Albasinidam is 32.4mm aangeteken en die dam se vlak staan op 28.9%, gemeet op 10 November. Dit is 0,4% voller as die vorige week. Vier weke gelede was die damvlak net oor die 31%.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines