

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 November 2008
Die Makhado Munisipaliteit het Maandagaand, tydens ‘n spesiale raadsvergadering, teen die aanbevelings van hul eie Uitvoerende Komitee beslis en besluit om Louis Trichardt se Boompark te oormerk vir die ontwikkeling van ‘n sentrale vervoerfasiliteit.
Die idee van die vervoerfasiliteit is om alle vorms van publieke vervoer, wat behels taxi, bus en trein, te sentraliseer. ‘n Konsortium ontwikkelaars het reeds die dorp besoek om te kyk na ‘n moontlike geskikte perseel vir die ontwikkeling. Die projek sal gefinansier word deur die Departement van Vervoer teen ‘n koste van R41 miljoen.
Op 30 Oktober het die Raad tydens ‘n raadsvergadering in beginsel die projek goedgekeur. Die raadsagenda van daardie spesifieke vergadering is vergesel van ‘n verslag deur die munisipaliteit se waarnemende Direkteur Korporatiewe Dienste insake die ontwikkeling. Een van die vereistes van die fasiliteit is dat dit naby die bestaande spoorlyn moet wees. In die verslag word daar pertinent genoem dat die Boompark, in die dorp se sensitiewe “Groengordel-strook,” nie geskik is vir die ontwikkeling nie, aangesien dit nie naby die bestaande spoorwegstelsel is nie.
Ten spyte van die verslag het die Raad Maandag besluit om wel die Boompark te identifiseer as geskikte perseel vir die ontwikkeling van die fasiliteit. Wat hul motivering vir hul besluit is, is onduidelik alhoewel baie meen dat daar politieke motiewe daaragter is. Die Raad se besluit beloof weer om hewige reaksie van inwoners te ontlok. In die verlede het die Raad verskeie kere al gepoog om die Boompark vir ontwikkeling te oormerk, maar het telkens groot teenstand van inwoners ontvang.
Die besluit het reeds kritiek ontlok van die Demokratiese Alliansie (DA).
DA-raadslid Jacques Smalle het na afloop van Maandag se vergadering (waarna die media nie uitgenooi was nie) gesê die DA het met afgryse kennis geneem van die munisipaliteit se gebrek aan respek vir die bewaring van sensitiewe natuurgebiede soos die Boompark vir die nageslag. Hy sê verdere dat die Raad se Speaker ook vinnig was om enige gesprekvoering te stop, nadat die DA gevra het watter kriteria die Raad gevolg het om tot hul besluit te kom.
“Die DA sal die proses fyn dophou. Kwessies soos hersonering moet ingedagte gehou word, voordat enige ontwikkeling kan plaasvind,” sê Smalle.
Die projek sal in twee fases plaasvind. Die eerste fases behels die opgradering van die bestaande twee taxi-staanplekke op Louis Trichardt. Die tweede fases sal in 2010/11 geïmplementeer word.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
