ADVERTISEMENT:

 

Volgens die SBBV is hierdie die groep jongmense wat na die Wyk 21-vergadering aangery is op 15 November. Foto verskaf.

Munisipaliteit manipuleer vergadering, sê SBBV

 

News  Date: 21 November 2008

 

Die wyksvergaderings word gemanipuleer deur die Makhado Munisipaliteit en is ‘n nagmerrie van onbeholpenheid.

Dit is die gevoel van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) na afloop van Saterdag se vergadering van Wyk 21. Wyk 20 se vergadering is weer op ‘n Sondag gehou, wat nie vir inwoners aanvaarbaar is nie. Wyk 21 omvat die gebiede Waterpoort, Louis Trichardt (wes van die N1) en Tshikota.

Wyk 21 se vergadering op 15 November op die skouterrein is beskryf as ‘n nagmerrie. Die vergadering sou om 15:00 in die skousaal begin, maar toe belangstellendes daar aankom, is gevind dat ‘n kerkgroep besig was om hulle instrumente daar op te stel soos blykbaar gereël met die munisipaliteit.

“Die verantwoordelike wyksraadslid was nêrens te bespeur nie en toe hy daar aankom, het hy probeer, met ‘n gesukkel, om ‘n ander saal te kry,” sê mnr. Herman Smith van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging.  Die vergadering het om 15:40 begin. Inwoners kla dat daar geen voorbereidings vir die vergadering getref is nie en dat geen agenda beskikbaar was nie.

“Manipulasie en bedrog deur amptenare of raadslede is agtergekom deur persone wat die Venda-taal verstaan. Daar is gehoor hoe ‘n persoon (moontlik ‘n raadslid) oor sy selfoon versterkings vir die getalle in die gehoor opkommandeer. Die woorde in Venda wat gebruik is was ‘dit sal nie werk nie.’ Dit het waarskynlik verwys na die goeie belangstelling van blankes by die vergadering. Kort daarna daag daar ‘n paar motors en bakkies op wat mense aanry na die vergadering,” sê Smith.

Die verantwoordelike raadslid het nog ‘n klomp oproepe gemaak, waarna hy verklaar het dat mnr. Chris Karidzha die vergadering moet kom lei om die verkiesing waar te neem.

“Nadat almal hulle plekke ingeneem het en net voor die vergadering sou begin, loop daar nog ongeveer 15 jongmense in waarvan ten minste een geïdentifiseer is as ‘n Zimbabwiër,” sê Smith. Die SBBV vra die vraag of al daardie jongmense eiendomseienaars in Louis Trichardt is? “Na ‘n onderbreking in die vergadering het baie van die jongmense skielik verdwyn,” sê Smith.

Tydens die vergadering is ooreengekom op ‘n  pro-rata verdeling van komiteelede. Twee posisies is aangewys vir die padkamp sonder dat daar enige padkampmense teenwoordig was.

“Die saak sal deur die SBBV opgeneem word met die Speaker en die munisipale bestuurder, aangesien dit duidelik geword het dat die publiek gemanipuleer word deur die Makhado Munisipaliteit en dat daar absoluut geen voorbereiding vir die vergadering gedoen is nie,” sê Smith.

Wyk 20, wat Louis Trichardt oos van die N1 insluit, se vergadering is op Sondag, 2 November, in die Vleifontein-gemeenskpsaal gehou. Die Voorsittersvereniging (VV) het dit by verskeie geleenthede duidelik gestel dat vergaderings op Sondae onaanvaarbaar is.

Reaksie van die munisipaliteit is op 18 November aangevra. Die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, het Woensdag gereageer en gesê die SBBV se aantygings is onwaar. Volgens hom was daar wel vooraf voorbereiding gewees vir die vergadering van 15 November en het dit nie laat begin soos deur die SBBV beweer word nie, maar om 15:20 omdat daar vir nog mense gewag is. Daarbenwens is ‘n standaard agenda vir al die wykskomitees opgestel wat voorgelees en geoedgekeur is tydens die vergadering, sê Bobodi. Wat die sale betref, sê Bobodi, is saal B gebruik aangesien saal A reeds bespreek was.

Bobodi sê hy is nie bewus van enige iemand wat in Venda per selfoon mense so “invoer” na die vergadering nie. Verder, sê hy, is die aangeleentheid ook nie opgebring tydens die vergadering nie.

Wat die padkamp betref, sê Bobodi, was daar twee verteenwoordigers (Mr Maboho en Ms Luruli) wat onbestrede verkies is. Bobodi sê dit is nie ‘n wetlike vereiste dat slegs grondeienaars hierdie vergadering kan bywoon nie, maar enige iemand wat in daardie wyk woon. Verder is hy ook nie bewus van enige Zimbabwiërs by die vergadering nie. Ten laaste het hy gesê dat alhoewel daar nie notule geneem word tydens so ‘n verkiesings nie, daar 65 mense by 15 November se vergadering was. Hy sê ook dat geen vergadering op Sondag, 2 November, plaasgevind het in Wyk 20 nie.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines