

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 November 2008
Mnr. Jan Viljoen, voorsitter van TLU SA Noord, sê daar is groot dankbaarheid by talle boere in die streek na die wye reën wat in die gebied sedert begin November geval het.
Tog het dit nie orals gereën nie. Mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van Soutpansberg DLU, het gesê dat die reënval nog nie na wense is in die Soutpanberg gebied nie.
“Op plekke het dit goed gereën, op ander glad nie. Dit het nog nie genoegsaam in die opvangsgebiede van die damme gereën om ‘n verskil te maak nie,” sê Hoffman.
Noord van die Soutpansberg het sommige plekke nog geen reën gekry nie, terwyl ander (Mopane, Waterpoort en Alldays) ongeveer 34 mm gehad het. Bandelierkop het ongeveer 60 mm gehad, maar die boere wes van Bandelierkop, nader aan Mara, het 130 mm vir November maand gehad. Vivo het klaarblyklik ook lekker reën gehad.
Die Louis Trichardt en Levubu gebied het ook tussen 30mm en 75mm reën gemeet. In die Waterpoort-omgewing was daar verlede Woensdagaand geweldige hael- en stormwindskade. Kweekhuise en aanplantings is verwoes en infrastruktuur het ook in die slag gebly.
“By Dendron het ‘n bykomende probleem voorgekom. In die kommunale gebiede, waar geen bewaring gedoen word nie en gronderosie ‘n groot probleem is, verander die beskadigde, onversorgde grond in ‘n vloedvlakte tydens reën,” sê Hoffman. Min reënwater word dus geabsorbeer en dan vorm dit riviere wat deur die kommersiële boere se plase ploeg. Die gevolg was ook dat die pad by Dendron vir ‘n ruk gesluit was as gevolg van die geweldige vloedwater wat uit die kommunale gebiede uitgestroom het.
“Dit is werklik nou dringend nodig dat daar na die kommunale gebiede gekyk moet word. Dit is gruwelike nalatigheid dat grond, wat ‘n beperkte hulpbron is, so genadeloos verwoes kan word,” sê Hoffman.

ADVERTISEMENT:
