

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 November 2008
Stormskade van miljoene rand is verlede Woensdagaand (12de) aangerig aan oeste in die omgewing van Waterpoort. Minstens nege plase waar groente en vrugte geproduseer word, is getref.
Vernietigende reënneerslae, gepaard met stormsterk wind en hael, het die hele spanspek- en soetrissie-oes op die plaas Schulpad, modelplaas van mnr. Mannetjie Storm, vernietig, terwyl uitgebreide skade ook aan infrastruktuur aangerig is. Die meeste bome in die omgewing van die plaasopstal is beskadig. Takke is afgeruk, bome en byekorwe is omgewaai en by een gebou het die stormwind die sementteëls uit die dak geruk.
Sinkdakke van personeelbehuising is afgeruk, haelnette is geskeur en panele in die R5-miljoen kweekhuisaanleg beskadig, terwyl heinings ook platgewaai en meegesleur is deur ‘n vloed wat gevolg het op ‘n neerslag van 200mm binne die bestek van ‘n uur. Die haelbui het net sowat 10 tot 15 minute geduur, maar in dié kort tydjie ernstige skade aangerig. ‘n Groot gedeelte van die beskadigde soetrissie-oes moes deur werkers verwyder word vanaf die draadheining langs die pad na Alldays, waar dit deur die vloed vasgespoel is.
Die skade en ontwrigting is vererger deurdat telefoon- en kragdrade ook in die slag gebly het. Die kragonderbreking het opruimings- en herstelwerk vertraag en die moontlikheid van verdere skade in die reuse kweekhuisstelsels vergroot, waar die temperatuur en voggehalte outomaties beheer word. Die noodkragopwekkers van die boerdery is eweneens in die storm buite werking gestel.
Die druiwe-oes van Schulpadboerdery het gedeeltelik in die slag gebly, toe die stormwind die haelnette oor die wingerde weggeskeur het. Twee variëteite pitlose wit tafeldruiwe word op die plaas gekweek en is reeds markgereed.
Mnr. Storm beraam sy skade op sowat R6-milljoen. Skade aan die sewe hektaar soetrissie-oes beloop nagenoeg R3-miljoen, terwyl die oesskade aan die 22 hektaar spanspekke op R2-miljoen gestel word. Sowat R1-miljoen se skade is aan infrastruktuur aangerig. Die oeste sou oor sowat drie weke, net voor Kersfees, markgereed wees.
Skade is ook aangerig aan omliggende plase toe die haelstorm in ‘n strook sowat 13km noordoos van Waterpoort deurgetrek het. Mnr. Henning Botha sê dat hy sowat R300 000 se skade gelei het toe die hael sowat vier hektaar van sy oes platgeslaan het. Hy boer ook met spanspekke, asook waatlemoene en tamaties.
Op verskeie ander plase het goeie reënneerslae sonder enige skade voorgekom. Ernstige stormskade is ook aangerig in die Nzhelele- en Indermark-woongebiede. Verkeer op die teerpad tussen Mogwadi (Dendron) en Vivo is ook Donderdag (13de) tydelik ontwrig, toe stormwater in die Houtrivierloop sowat ‘n meter diep oor die pad gespoel het. Die pad word op groot skaal deur vragmotors gebruik.
Te midde van die skade het die reënneerslae op verskeie plekke uitkoms gebring deur die skraps weiding te help herstel.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
