

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 November 2008
Dit is waarskynlik een van die mees genadelose 100km-stapmarathons op aarde. Daar is geen spanbestuur of begeleidende voertuie en ondersteuners aan die kante van die pad nie.
Waterpunte is daar ook nie in ‘n gebied waar dagtemperature van bo 40 grade alledaags is. Daar is geen kos, veilige rusplek, noodhulp of mediese bystand nie vir ‘n staptog wat gemiddeld drie dae lank van Zimbabwe na Louis Trichardt duur.
Dit is die lot van honderde Zimbabwiërs wat weekliks, weens politieke onstuimigheid en dreigende hongersnood in hul geboorteland, oor die grens na Suid-Afrika stroom in ‘n stryd om oorlewing. Langs die N1 en ander paaie noord van die Soutpansberg word hulle telkens aangetref, soms hele families - ma’s, kinders en babas.
In Musina is aanduidings van die dreigende hongersnood in ons buurstaat reeds sigbaar. Mieliemeelverkope en pryse het die hoogte ingeskiet, met Zimbabwiërs wat in grootmaat alle moontlike meelvoorrade in Musina opkoop vir herverkoop in hul tuisland. Die situasie het reeds krisisafmetings aangeneem en dreig om uit te kring na Louis Trichardt. So byvoorbeeld het ‘n sakkie 12,5kg mieliemeel tot onlangs toe R40 gekos. Die prys op Musina is nou tot R60.
Te midde van die menslik tragedie wat hom afspeel in Zimbabwe is dit egter vir baie nog slegs ‘n veraf gedagte. Die feit is dat Suid-Afrika, en veral die Soutpansberg, moeilik die nadelige gevolge van wat in Zimbabwe aan die gebeur is, gaan vryspring. Tekens hiervan is reeds orals plaaslik sigbaar, soos byvoorbeeld die mieliemeelkrisis op Musina.
Die veiligheidsgevaar wat ‘n massa toestroming van mense uit Zimbabwe inhou, is vir baie ‘n bron van kommer. Van tydelike akkommodasie op georganiseerde wyse vir hierdie mense is daar feitlik geen sprake nie. Sommiges vind hul toevlug in die veld, op oop ruimtes binne die dorpsmeent van Musina en Louis Trichardt of in kamers en krotte in agterplase in die minder formele woonbuurtes. Talle instansies, hoofsaaklik kerkorganisasies soos die Anglikaanse Kerk in Nancefield (Musina) en die Jesuïete sentrum op Louis Trichardt, wat humanitêre hulp verleen, het hulself by geleentheid reeds teen die polisie vasgeloop. Om egter desperate mense, wat werkloos en honger worstel om oorlewing bloot aan hul lot oor te laat, skep opsigself ‘n wesenlike misdaadgevaar en ‘n morele dilemma – Moet jy hierdie mense help of nie?
Aan die een kant is daar diegene wat meen die mense hoort nie in Suid-Afrika nie en dat hulle bloot ‘n veiligheidsgevaar is. Aan die ander kant is daar dié wat glo Suid-Afrikaners het ‘n morele plig om humanitêre hulp aan medemense in nood te verleen. Laasgenoemde siening blyk egter ietwat van ‘n tamaletjie te wees, aangesien die Suid-Afrikaanse regering oënskynlik nog steeds traag is om mense uit Zimbabwe as bona fide vlugtelinge te beskou. Alle ongedokumenteerde Zimbabwiërs word derhalwe, strydig met Suid-Afrika se eie wetgewing, as verbode immigrante gehanteer, wat eenvoudig aangekeer en gedeporteer word. ‘n Paar maande gelede het die polisie op Louis Trichardt amptelik aangekondig dat dit onwettig is om hierdie mense, te midde van hul honger en nood, te help. Persone wat hulp aan hierdie mense verleen, kan hulself dus blootstel aan vervolging. Regskenners sê dié standpunt is strydig met die bepalings van Artikel 42 van die Immigrasie Wet wat uitdruklik voorsiening maak vir die verlening van humanitêre hulp aan hierdie mense.
Ten spyte van die gevaar van moontlike vervolging, gaan baie instansies en persone steeds onverpoosd voort om die lot van hul medemense van oorkant die grens te probeer verlig. Instansies soos “A Helping Hand” op Louis Trichardt verskaf op georganiseerde wyse etes aan die vlugtelinge en ander haweloses op Louis Trichardt. Hulle het vandeesweek ‘n beroep gedoen op motoriste om gerus ‘n kannetjie drinkwater saam te ry op die pad tussen die dorp en Musina.
“Sien hierdie mense raak. Hulle is ons bure en hul huis is aan die brand. Hou op ‘n veilige plek stil en help hulle om hul leë drinkwaterbottels te vul. ‘n Piesang of ‘n stukkie brood sal sekerlik ook welkom wees en bemoedig hulle gerus vir die res van die reis,” lui die beroep.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
