

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 November 2008
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het Woensdagmiddag ontken dat ‘n moordverdagte wat homself in Oktober vanjaar geskiet het, sou erken het dat hy verantwoordelik was vir die moord op ‘n plaasboer van die omgewing, mnr. Martin Armitage.
Op 7 Oktober vanjaar is die 24-jarige Maano Mutandari deur die polisie op Tshilwavhusiku gearresteer in verband met ‘n gewapende roof op Muduluni op 28 September. Kort na sy arrestasie het hy sekere skulderkennings gemaak ten opsigte van verskeie misdade. Hy is toe saam met die polisie om van hierdie misdaadtonele uit te wys. Op pad terug het hy egter die stuurwiel van die polisievoertuig waarin hy vervoer is, gegryp. Die bestuurder het beheer verloor en die voertuig het omgeslaan en onder ‘n brug tussen Ramantsha en Ravele tot stilstand gekom. Mutandari het uitgespring, ‘n polisiepistool gegryp en een van die drie polisiebeamptes wat hom vergesel het, doodgeskiet. Die twee ander polisiebeamptes is ernstig in die ongeluk beseer.
Mutandari het gevlug, maar danksy ‘n wenk van die publiek het hulle hom die volgende dag opgespoor in ‘n huis by Madabani, waar hy geskuil het. Die huis is omsingel en Mutandari is gevra om uit te kom. Oomblikke later het daar ‘n skoot geknal. Die polisie het die huis binnegestorm en Mutandari dood aangetref, nadat hy homself geskiet het.
Mutandari is verbind met verskeie moordsake, insluitend die moord op ‘n onderwyser op Louis Trichardt in September en die moord op ‘n polisieman van Banderliekop in dieselfde tydperk. Die polisie het ook sy rol in twee poging-tot-moord sake op Waterval en ‘n kaping op Mokopane op 28 September ondersoek.
Verlede week het die Zoutpansberger egter deur ‘n bron verneem dat Mutandari kort voor sy dood na bewering ook sou skuld erken het van die moord op mnr. Armitage. Mnr. Armitage se liggaam is op 1 Oktober 2004 by sy plaashek op die plaas Melkhoutkopjes op die Fort Edward-pad gevind met ‘n enkele skietwond in die bors. Sou Mutandari wel sy moordenaar gewees het, sal dit ‘n einde bring aan een van talle van die streek se onopgeloste moordsake. Volgens die bron is daar ook van mnr. Armitage se persoonlike besittings in Mutandari se besit gevind. Na verskeie media-navrae, beide op plaaslike en provinsiale vlak, het die stasiebevelvoerder van Tshilwavhusiku, supt. Freddy Shirinda, Woensdagmiddag gesê dat, alhoewel Mutandari sekere erkennings gemaak het, hy nie skuld erken het op die klag van moord op Armitage nie. Hy sê dat hy met die ondersoekbeampte in die saak gepraat het en dat dié hom meegedeel het dat Mutandari nie oor Armitage se moord gepraat het nie. Die Armitage-moord bly dus onopgelos.
Lesers sal dit interessant vind dat, net soos Mutandari, nog ‘n verdagte in een van die streek se onopgeloste moordsake homself geskiet het. Die 36-jarige Mavesere Tavengwa het homself op 2 Junie 2006 in die polisieselle op Louis Trichardt met ‘n .22-pistool geskiet. Ná die tyd sou dit aan die lig kom dat hy ‘n verdagte was in die moord op mev. Edna van Heerden (53) van die Rondebosch hoewes langs die Ledig-pad op 2 Januarie 2006. Wyle mev. Van Heerden se dogter, Carine, het by navraag gesê dat dit die laaste inligting was wat hulle vanaf die polisie ontvang het. Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadiki het hierdie week bevestig dat Tavengwa wel ‘n verdagte in die moord op Van Heerden was. Hy het egter gesê dat die moordsaak steeds oop is en ondersoek word.

ADVERTISEMENT:
