

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 December 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Die plaaslike polisie het sedert die begin van die week reeds met verskeie ernstige misdaadvoorvalle te make. Een moord en een gewapende roof is Maandag aangemeld.
Die moordklag volg na die dood van nog ‘n persoon in die bosse langs die oostelike punt van Rissikstraat.
Die lyk van ‘n 25-jarige vrou is Maandag hier in die palmpark langs Rissikstraat aangetref. Volgens aanduidings op die toneel was sy vermoedelik betrokke in ‘n geveg met haar aanvaller. Sy het verskeie wonde aan haar kop en die polisie vermoed dat sy met ‘n stomp voorwerp teen die kop geslaan is. ‘n Moordklag word ondersoek.
Volgens polisie woordvoerder Daniel Ndlovho is die oorledene nog nie teen druktyd uitgeken nie. Sy was geklee in ‘n blou denimbroek, blou T-hemp en wit seilskoene. Die polisie het ‘n beroep gedoen op lede van die publiek om te help met inligting wat kan lei tot die inhegtenisname van die moordenaar/s.
Die moord is die jongste in ‘n reeks geweldmisdade wat die afgelope tyd in die dorp en omgewing voorgekom het. Verlede week is etlike honderde duisende rande geroof tydens ‘n gewaagde rooftog by Solly’s Discount World in die middedorp. ‘n Wilde skietgeveg, waartydens drie sekuriteitswagte en rower gewond is, het ontstaan. Maandag het gewapende rowers op die gruispad tussen Elim en Vleifontein sowat R400 000 uit ‘n gepantserde veiligheidsvoertuig geroof, nadat die voertuig in ‘n skietery tot stilstand gedwing is. Niemand is in die voorval beseer nie.
Volgens die polisieverslag het ‘n sekerheidsvoertuig van Fidelity Guards kontantgeld ingesamel by die sakekompleks op Elim en was onderweg vir verdere insameling op Vleifontein, toe die aanval omstreeks 11:15 Maandagoggend voorgekom het.
Die gewapende rowers, wat in ‘n donkerrooi Nissan Sentra gery het, het die veiligheidsvoertuig op die gruispad naby die plaas Moddervlei aangeval. Die voertuig se linker voorste band is stukkend geskiet en die voertuig is tot stilstand gedwing. Die vyf rowers, wat met twee gewere gewapen was, het die bestuurder van die sekerheidsvoertuig en sy bemanningslid beveel om uit die voertuig te klim en op die grond te gaan lê. Die rowers het die hangslot agter aan die voertuig stukkend geskiet en nege houers met geld verwyder. Hulle het ook die bemanning van die sekerheidsvoertuig van hul wapens beroof. Dit sluit ‘n handwapen en ‘n pompaksie-haelgeweer in.
Teen druktyd is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die polisie het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om na vore te kom met inligting wat kan help met die ondersoek.
Gewapende rooftogte geskied tans byna op ‘n weeklikse basis op Louis Trichardt. Op 30 September het Standard Bank deurgeloop. Vyf gewapende mans het die bank binnegestap, personeel aangerand en hulle forseer om die deur na die tellers oop te sluit. Hulle het kort daarna met sowat R200 000 op die vlug geslaan.
Feitlik presies ‘n maand voor dié rooftog het Nedbank deurgeloop. Weer het vyf gewapende mans die bank binnegestorm het, en minute later met sowat R300 000 op die vlug geslaan het. Dit is egter nie net banke wat deurloop nie, maar ook privaat besighede.

ADVERTISEMENT:
