

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 November 2008
Om op Kersdag ‘n blikkie boeliebief te kan oopmaak vir jou feesmaal, is die onbereikbare droom van menige persoon in Zimbabwe. Selfs die mees basiese voedselsoorte is reeds onbekombaar.
Die skokkende werklikheid van ‘n voedseltekort wat rampafmetings aanneem in Zimbabwe is vandeesweek voorgedra aan lede van die Zimbabwiese uitreikspan van die NG-gemeentes op Louis Trichardt, wat ywerig besig is om reëlings te tref vir ‘n opvolgbesoek om die nood van veral bejaarde inwoners van Zimbabwe te help verlig. Finale reëlings sal eerskomende Maandag getref word. Talle skenking word nog benodig om die dringende nood te help verlig.
“Ons benodig nog heelwat kookolie, koekmeel, broodmeel, blikkies vleis (boeliebief) en vis, klein verpakkings mieliemeel en seeppoeier sowel as steenseep,” sê Andries Smal, koördineerder van die uitreikaksie. Mense wat wil help kan die voorrade nog aanstaande week na die kerkkantoor toe bring.
Geldelike bydraes is veral ook welkom. Die reiskoste van die vorige uitreik, toe net vyf voertuie gebruik is, het R18 000 beloop. Die verwagte reiskoste van die huidige uitreik word op R21 000 geraam.
Altesaam ses voertuie met sleepwaens is reeds beskikbaar vir dié uittog na ‘n land waar meer as die helfte van die bevol-king deur hongersnood in die gesig gestaar word.
Die span uit Louis Trichardt sal noodsaaklike voorrade na sowat 400 hulpelose bejaardes bring, wat hulleself op verskillende plekke in Zimbabwe bevind. Wyd uiteenlopende plekke in alle dele van die land gaan besoek word.
Skenkings wat tot dusver reeds vasgeknoop is sluit in voorrade hoendereiers, aartappels, neute, vrugtesap droë bone en suiker. Persoonlike toiletbenodighede is ook beloof.
Die spanlede sal hierdie keer deeglike voorsorg moet tref teen malaria en ook deeglik rekening moet hou met die uitbreking van cholera, wat nie net tot die platteland beperk is nie, maar selfs op groot skaal in Harare voorkom. Hul vrag sal ‘n gewigtige hoeveelheid gebottelde water insluit, terwyl spesiale watersuiweringspreparate ook saamgeneem word. Hulle neem ook ‘n groot watertenk saam vir een tehuis vir bejaardes wat sonder ‘n opgaar kapasiteit sukkel.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
