

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 December 2008
Die kragtoevoer na die Mara-omgewing gee die afgelope klompie weke herhaaldelik probleme. Inwoners van dié gebied kla dat dit vir hulle voel of die krag meer af is as aan.
Sommige inwoners het al skade gely as gevolg van die gedurige onderbrekings, terwyl ander alternatiewe maniere moes vind om met hulle bedrywighede te kon aangaan.
Volgens Mnr. Hendrik Kemp en sy vrou, Estelle, wat boer in die omgewing, het hulle dikwels geen krag by hulle lodge nie, wat al daartoe gelei het dat hulle melk, vleis en groente moes weggooi omdat dit nie koud genoeg gehou kon word nie. Wanneer die krag afgaan, sit hulle sonder verbinding met die buitewêreld, aangesien die telefone dan ook af is en die selfoontoring ook nie funksioneer nie. Dit maak dat hulle oop teikens is indien hulle aangeval sou word.
Ander inwoners van die area, Pieter en Odette van Wyk, het dieselfde klagtes. Wanneer daar nie krag is nie, kan die boerdery nie loop nie en dan sit die werkers ledig rond, terwyl hulle betaal moet word vir daardie tyd. Die skade beloop duisende rande per dag. Pieter moes intussen noodgedwonge ‘n kragopwekker kry om op bystand te wees, wat hom al sowat R20 000 uit die sak gejaag het. Hulle sê dat dit voorkom asof geen onderhoud op die bestaande lyne gedoen word nie. Nog ‘n klagte wat hulle het is dat die munisipaliteit klaarblyklik traag is om te reageer wanneer hulle in kennis gestel word dat daar probleme is. Dit neem ure voordat enige poging aangewend word om die probleem op te los. In ander gevalle lyk dit asof die persoon aan diens by die klagtelyn van die munisipaliteit doodgewoon die telefoon van die mikkie afhaal om te verhoed dat mens opeenvolgende klagtes indien.
In reaksie op dié aantygings het Zoutpansberger met die manne van die elektrisiteitsafdeling by die munisipaliteit gaan gesels. Hulle het erken dat daar probleme op die toevoerlyn na die betrokke area is. Sommige daarvan is tewyte aan verouderde infrastruktuur, terwyl ander weer bestaan weens ‘n verskeidenheid van faktore, waaronder die weer, vloedskade gely in 2000, ‘n tekort aan mannekrag en ‘n gebrek aan geld.
In 2000 het ‘n paal wat in die middel van ‘n rivierloop gestaan het, weggespoel. Dit het meegebring dat die drade los gehang het oor die rivier. Van tyd tot tyd, as die wind sterk waai, het die drade aan mekaar geraak, wat ‘n kortsluiting veroorsaak het. Wanneer daar ondersoek ingestel word na die oorsaak, kon niks egter gevind word nie. Dié probleem is nou onlangs eers opgespoor. Dan het die weerlig ook nog twee belangrike komponente uitgeslaan, wat ‘n hele klompie geld kos om te vervang. Die geld hiervoor moet nog goedgekeur word.
‘n Verdere probleem is dat die munisipaliteit tans ‘n groot tekort aan opgeleide personeel in die elektrisiteitsafdeling het. Die paar manne wat daar is moet ‘n geweldige groot gebied bedien. Indien almal wat op diens is gelyk uitgeroep word, kan hulle soms letterlik honderde kilometers uitmekaar wees. Enige addisionele probleme raak dan ‘n ernstige probleem.
Die laaste probleem kan die maklikste oorkom word, naamlik dat die geld wat deur die nasionale regering bewillig is vir instandhouding, deur die Vhembe Distriksmunisipaliteit beskikbaar gestel word. Dit gebeur egter nie (sien berig elders oor die watersuiweringswerke in Louis Trichardt) en dan is daar nie geld beskikbaar om enige herstelwerk te doen nie. Dit verg gewoonlik ‘n krisis van een of ander aard voordat dié geld dan beskikbaar gestel word. Die antwoord is bloot beter bestuur en aanwending van die geld.
Intussen het die elektrisiteitsafdeling kennis geneem van die probleme van die klaers en belowe om daaraan aandag te skenk. Die manne daar het die versekering gegee dat hulle luister na klagtes en sal terugvoer gee aan die klaers.

ADVERTISEMENT:
