ADVERTISEMENT:

 

Limpoporivier met dodelike cholera-bakterie besmet

 

News  Date: 05 December 2008

 

Die cholera-uitbreking in Zimbabwe het hierdie week ‘n verdere dramatiese wending geneem met die nuus dat Limpoporivier met dié hoogs aansteeklike en dikwels noodlottige siekte besmet is.

‘n Provinsiale woordvoerder van die Departement Gesondheid en Welsyn, mnr. Phuti Seloba, het hierdie week bevestig dat watermonsters wat uit die Limpoporivier geneem is positief getoets het vir cholera. Die toetse is Maandag net oos van Musina in die Limpoporivier uitgevoer. 

Die nuus het as groot skok gekom vir inwoners van die land se noordgrens wat beide die rivier vir drinkwater en besproeingsdoeleindes gebruik. Kort na die aankondiging het die voorsitter van TLU SA Noord, mnr. Jan Viljoen, boere indringend gemaan dat die besproeiing van gewasse met rou water uit die Limpoporivier ‘n gesondheidsgevaar vir verbruikers kan inhou.

“Gewasse soos slaaiblaar, tamaties, selfs wortels en aartappels, moet deeglik gewas word voordat dit gebruik word. Die kookproses vernietig die bakterieë. Die grootste gevaar is wanneer plaaswerkers of gemeenskappe wat op die oewer van die Limpopo woon, die rou water gebruik vir was- of drinkwater. Boere, tradisionele leiers en ander leiers word gevra om inligting te versprei en streng higiëne in te stel,” het Viljoen gesê.

Tans bestaan daar ook ‘n werklike vrees dat die cholera-besmetting na ander riviere in die streek versprei het. Seloba het by verdere navraag Woensdag gesê dat amptenare van die Departement van  Waterwese wel besig is met die neem van verdere watermonsters in ander riviere in die streek, bloot om seker te maak dit is nie besmet nie en steeds veilig vir menslike gebruik.

Oor die moontlike oorsaak van besmetting van die Limpopo Rivier is daar tans baie teorieë. Een argument is dat besmette Zimbabwiërs wat onwettig oor die grens deur die rivier gekom het die oorsaak is. Baie meen egter dat hierdie argument onwaarskynlik is en blameer eerder die totale ineenstorting van die rioolstelsel op die Zimbabwiese grensdorp Beitbrug, net noord van die Suid-Afrikaanse grens, vir die besmetting. Weens die ineenstorting van die stelsel vloei duisende liters rou riool in die Limpoporivier in. Die situasie is kommerwekkend, in so ‘n mate dat gesondheidsamptenare van beide Zimbabwe en Suid-Afrika voorverlede week ‘n dringende ver-gadering belê het om die krisis in Beitbrug aan te spreek. Die hoof fokus van die vergadering was gewees om te kyk hoe die twee lande mekaar behulpsaam kan wees ten opsigte van water- en rioolsuiwering in die Zimbabwiese grensdorp.

Met die gevaar van cholera-besmetting ‘n wrede werklikheid, word inwoners weereens gemaan om voorkomend op te tree. Voorkoming sluit in dat lede van alle gemeenskappe streng higiëne moet handhaaf.

“Alle mense moet toilette gebruik en nie die veld of padskouers nie. Toilette moet behandel word.  Behandelde water en seep moet by alle toilette beskikbaar wees, sodat die hande deeglik met water en seep gewas kan word. Alle water moet gekook word voor gebruik. Alle voedsel moet deeglik gewas word met behandelde water voordat dit geëet word. Die bakterie word deur die mond ingeneem en daarom moet seker gemaak word dat hande deeglik gewas word,” is Viljoen se raad.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines