

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 December 2008
Daar is steeds baie onsekerheid oor wat presies die 46-jarige mnr. Victor Posthumus aangespoor het om verlede Donderdag eers sy voormalige werkgewer, mnr. Bennie Rheeder (34), in sy winkel op Louis Trichardt plat te skiet en daarna selfmoord te pleeg.
Rheeder is vyf keer (drie skote in die rug en twee in die linker bo-arm) getref, nadat Posthumus met ‘n .38-rewolwer op hom losgebrand het. Daarna het Posthumus die rewolwer teen sy kop gedruk en homself geskiet. Oomblikke vantevore het Posthumus met ‘n koue uitdrukking op sy gesig verby Rheeder se vrou, Ilse, gestap waar sy aan die voorkant van Rheeder se nuwe besigheid, Pro-Tech Batteries in Rissikstraat, doenig was. Rheeder was agter in die winkel.
“Jou p#@s! Ek gaan jou skiet!”
Dit was al woorde wat Posthumus vir Rheeder toegesnou het. Rheeder het probeer keer, maar sy pleidooi van “Nee Victor, moenie skiet nie!” het op dowe ore geval. Die volgende oomblik het die skote geklap. Rheeder het sy rug op Posthumus gedraai. In ‘n stadium het hy oor sy skouer gekyk om te sien wanneer hou die skote op en was net betyds om te sien hoe Posthumus die rewolwer teen sy eie kop druk, die sneller trek en leweloos op die vloer val.
Swaar gewond het Rheeder hom na sy vrou gehaas, wat intussen onder ‘n toonbank skuiling gaan soek het. Sy was erg geskok en Rheeder self het telefonies hulp ontbied. Buiten vir die gewonde Rheeder, is een van sy personeellede, wat skaars ‘n week tevore daar begin werk het, ook in die rug getref, vermoedelik deur een van die koeëls wat deur Rheeder se bo-arm getrek het. Kort daarna het ‘n kollega van ‘n aangrensende onderneming vir Rheeder met sy voertuig na die Zoutpansberg Privaathospitaal gehaas.
Daar aangekom, is sy toestand gestabiliseer, waarna hy oorgeplaas is na die MediClinic in Polokwane. Intussen is die gewonde personeellid per ambulans na die Louis Trichardt Gedenkhospitaal geneem.
Later dieselfde dag is daar op Rheeder opereer om die vernietigende skade van die skote aan sy bo-arm te herstel. Hy moes ondermeer ysterplate in die arm kry. Een van die skote het Rheeder se hart met ‘n skrale 10cm gemis en wonderbaarlik is geen lewensnoodsaaklike organe getref nie.
‘n Vriend van die familie, me. Sinette Vogel, het Woensdag gesê dit gaan baie goed met Rheeder en sy vrou, alhoewel beide van hulle by tye nog baie emosioneel is oor die voorval. Rheeder is vroeër dieselfde dag na ‘n gewone saal oorgeplaas, nadat hy ‘n paar dae langer in die intensiewe eenheid moes deurbring. Dit was te danke aan ‘n bloedklont wat eers deur sy hart is en toe in die longe vasgesteek het. Danksy medikasie kon die klont egter opgelos word.
Posthumus was tot Junie vanjaar vir drie en ‘n halwe jaar werksaam by Rheeder. Rheeder moes egter weens moeilike ekonomiese omstandighede Posthumus se diens beëindig.
Baie lesers sal die naam Victor Posthumus onthou. Dit het aan die lig gekom dat hy dieselfde persoon was wat in Mei 1999 in ‘n wilde skietgeveg met lede van die lugmagpolisie op LMB Makhado betrokke was. AO2 Dirk van den Berg en sers. Leon le Roux het na ‘n huismolesklag vir Posthumus in ‘n kroeg op die basis opgespoor waar hy besig was om te drink. Hulle het hom gearresteer en AO2 Van den Berg het saam met Posthumus agterop die polisiebakkie geklim. Sers. Le Roux het bestuur. In het stadium het Posthumus van die bakkie afgespring en ‘n pistool uitgepluk wat hy in sy broek versteek het. Hy het wild op AO2 Van den Berg begin skiet. In die proses is AO2 Van den Berg in die arm, skouer en maag getref. Sers. Le Roux kon egter daarin slaag om Posthumus te wond.
Beide AO2 Van den Berg en Posthumus het die voorval oorleef. Posthumus is na aanleiding van die skietery in Desember 2000 skuldig bevind op ‘n klag van poging tot moord en tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. Hy moes drie van die vyf jaar uitdien, nadat twee jaar daarvan opgeskort is vir ‘n periode van vyf jaar. Hy is ook onbevoeg verklaar om weer ‘n vuurwapen te besit. In hierdie stadium is dit steeds onduidelik wie se rewolwer hy verlede week gebruik het. Die polisie ondersoek die saak.
(Teen druktyd was die naam en toestand van die gewonde personeel-lid nog onbekend)
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
