ADVERTISEMENT:

 

Seuns se "spierdoepa" kan hul lewens kos

 

News  Date: 09 April 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Is daar werklik soveel druk op ons kinders om in sport te presteer?"

Dit was die reaksie van 'n plaaslike geneesheer wat genader is om reaksie te lewer op die beweerde gebruik van 'n veterinêre medisyne, genaamd Testan, deur jong tienerseuns. 'n Halwe houertjie van die middel is deur 'n plaaslike leraar na die kantore van die koerant gebring, nadat 'n skoolseun die gebruik daarvan onder sy aandag gebring het.

Testan is 'n streng- beheerde, skedule 5-middel, wat slegs op voorskrif vanaf 'n mediese dokter of geregistreerde veearts beskikbaar is. Dit bevat testosteroonsipionaat, wat veroorsaak dat die liggaam vog terughou. Dit skep die voorkoms van groot spiere. Dit is juis dié kunsmatig- gespierde voorkoms wat blyk die aantrekkingskrag te wees vir jong seuns wat oor 'n kort periode graag groot spiere wil ontwikkel. Die langtermyn gebruik van die middel is egter meer negatief as positief vir die liggaam.

Plaaslike medici het die afgelope week verduidelik dat, alhoewel die gebruik van Testan 'n gewigstoename tot gevolg het weens die terughou van vog, dit ondermeer ook lei tot swelling van die borste en abnormale lewerfunksies. Die lewer werk nie soos hy moet nie en as die lewer aangetas is, bou ander, uiters nadelige toksiese stowwe in die liggaam op. Dan word daar nie nog nie eers gekyk na probleme van die hart en ander ogane nie.

Die gebruik van Testan is veral gevaarlik vir persone met epilepsie, hoë bloeddruk en hart- en niersiektes. By kinders is dié wanbalanse nog nie heeltemal sigbaar nie en, sou 'n kind die middel gebruik, word die negatiewe impak daarvan eers heelwat later bespeur. Indien die middel vanaf 'n jong ouderdom (ongeveer 13 jaar) toegedien word, kan dit veroorsaak dat die liggaam fisies ophou groei in lengte.

Buiten vir die gesondheidsgevaar van kinders wat hulself inspuit, is die groot vraag egter waar die kinders die middel bekom. Die vraag is gevra of dit volwassenes is wat die kinders met die middel voorsien en wie die kinders leer van die gebruik van die middel.

In 'n poging om meer hieroor uit te vind, is dr. Freddy Harris van Blouberg Dierekliniek genader. Dr. Harris het hom ten sterkste uitgespreek teen die menslike gebruik van die middel en genoem dat hulle nie eers Testan aanhou nie. Hy sê hy is ook nie bewus van enige ander besigheid, veearts of apteek in die dorp wat dit aanhou nie. 'n Bron van kommer was egter dr. Harris se opmerking dat talle liggaamsbouers hom reeds genader het om te probeer uitvis of hy vir hulle van die middel kan bekom. In al die gevalle het dr. Harris, wat self gereeld 'n gimnasium besoek, geweier om hulle behulpsaam te wees. Daar blyk dus 'n verband te wees met liggaambouers.

Mnr. Gerrie Malan, eienaar van die Body & Health Gym op Louis Trichardt, is genader vir kommentaar. Malan het heel openlik gesê dat Testan en liggaamsbou soos "battery and torch" saamloop. Hy het egter gesê dat hy die gebruik daarvan, asook enige ander verbode middel, ten sterkte afkeur. Hy sê hy het self die negatiewe effekte van die middel gesien en laat geen soortgelyke middel of enige ander verbode middel op sy perseel toe nie. Malan het ook bevestig dat talle liggaambouers en tienerseuns hom al genader het vir die middel, maar dat hy hulle nie behulpsaam was nie.

Op 'n vraag oor waar Malan dink die middel vandaan kom, het hy gesê dat alhoewel die middel nie vrylik oor die toonbank beskikbaar is nie, dit wel volop in omloop is in die liggaamsbouwêreld. Hy sê dat die Testan wat plaaslik in omloop is, heel moontlik via die swartmark bekom is vanaf Johannesburg of Pretoria, of selfs Polokwane.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines