

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 December 2008
Met twee gebreekte bene, ‘n gebreekte heup, longskade en bloeding op die brein was die 28-jarige mnr. Jaco Maré vir amper een en ‘n half uur binne die wrak van sy bakkie vasgespen, nadat hy Maandagaand, 1 Desember, van agter met ‘n vragmotor op die Louis Trichardt/Thohoyandou-pad gebots het.
Sy familie het groot lof gehad vir die flink optrede van Louis Trichardt se noodreddingspersoneel, alhoewel hulle nie dieselfde kon sê van die verkeersafdeling en polisie se optrede op die toneel nie.
Maré, ‘n werknemer van Cash Paymaster Services in Thohoyandou, was onderweg huis toe. Voor hom in die pad het ‘n vragmotor met ‘n vrag hout gestaan wat onklaar geraak het. Die vragmotor het geen ligte gehad nie en daar was ook geen waarskuwingstekens uitgesit nie. Skielik was die vragmotor voor hom. Daar was geen manier waarop hy betyds kon stop nie en hy het onder die trok ingejaag. Die ongeluk het omstreeks 19:30, sowat 26km buite Louis Trichardt, plaasgevind.
“Ons was daar gewees. Daar was geen bestuurder by die vragmotor nie, geen lisensieskyf op die venster nie, geen ligte op die trok nie en geen waarskuwing van die houtpale wat oor die vragmotor gehang het nie,” het Maré se eggenoot, Maritza, Dinsdag vertel waar sy steeds besig was om langs haar man se hospitaalbed by die MediKliniek in Polokwane te waak. Maré is Maandag eers oorgeskuif na ‘n gewone saal, nadat hy sedert die ongeluk in die intensiewe eenheid van die hospitaal was. Tydens sy eerste twee dae daar het dokters vir Maritza gesê dat sy moontlik moet gereed maak vir die ergste.
Maritza sê die verkeersafdeling en polisie se optrede op die toneel is vir haar onaanvaarbaar. Volgens haar het hulle, nadat die bestuurder van die vragmotor teruggekeer het met ‘n battery vir die trok, doodeenvoudig toegelaat dat hy met die onpadwaardige voertuig verder kon ry.
“Daar is geen afmetings geneem nie, niks nie. Ek het intussen vir die polisie meer inligting gevra oor die ongeluk, maar het nog niks weer van hulle gehoor nie,” sê Maritza.
‘n Lid van ‘n plaaslike insleepdiens, mnr. Hugo van den Heever, was ewe ontsteld oor die verkeersafdeling en polisie se optrede.
“Wat my kwaad maak, is dat daar vyf munisipale verkeersvoertuie en vyf polisievoertuie op die toneel was. Hulle het vir die bestuurder van die trok gesê om van die hout af te laai, waarna hulle weer die trok aan die gang gekry het en verder gery het – ‘n onpadwaardige voertuig! Nou kan hy maar verder mense gaan verongeluk,” sê Van den Heever. In ‘n stadium het Van den Heever gepoog om van die beamptes se naamplaatjies op kamera vas te lê, maar hulle het dit met hul hande toegedruk.
“Toe ek hulle vra waarmee hulle besig is, het hulle net gesê ek moet nie inmeng nie,” sê Van den Heever.
Om ‘n verduideliking te kry oor waarom die bestuurder van die, volgens omstanders, onpadwaardige vragmotor toegelaat is om verder te ry, het medianavrae aan die polisie teen druktyd nog niks opgelewer nie. Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadiki het egter gesê dat hy definitief sal poog om uit te vind wat presies op die toneel gebeur het en of daar enige waarheid is aan die beweringe.
Op sy beurt het mnr. Louis Bobodi, woordvoerder van die Makhado Munisipaliteit, gesê dat sou die betrokke munisipale verkeersbeamptes wel toegelaat het dat ‘n moontlike onpadwaardige voertuig verder kon reis, veral na ‘n ongeluk, hul optrede onaanvaarbaar is. Hy het ook onderneem om te probeer uitvind wat op die toneel gebeur het en het ook Maré en sy familie uitgenooi om met hom te skakel oor die voorval.Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
