ADVERTISEMENT:

 

Die ram, De Wet, van die Fourie Reds stoet wat ‘n nuwe Suid-Afrikaanse rekord van R65 000 opgestel het tydens die jaarlikse Bosveld Boerbokveiling op 14 November. Agter hom is, van links, Joubert Fourie, Bennie Coetzee (koper), Tobie Fourie en Johan van der Nest (afslaer). Foto verskaf .

SA Rekord vir boerbokram uit Soutpansberg

 

News  Date: 12 December 2008

 

Ons almal weet dat vleis deesdae baie duur is, maar as iemand R65 000 uithaal vir ‘n bokram, kan jy verseker weet dat hierdie gedierte nie vir die kospot bestem is nie.

Inderdaad was dit die geval tydens die jaarlikse Bosveld Boerbokveiling wat op 14 November in Polokwane aangebied was. Op dié veiling het ‘n Kalahari Red-boerbokram van die Fourie Reds stoet buite Louis Trichardt ‘n nuwe Suid-Afrikaanse rekord opgestel toe dit vir R65 000 verkoop is. Die ram, genaamd De Wet, is deur die Keta Kalahari Reds stoet van Marken gekoop, met SHM Marketing as afslaers. Dit was ‘n trotse oomblik vir Fourie Reds-teler, oom Tobie Fourie.

Maar De Wet is nie sommer net enige ram nie. Nee, hy spog reeds met talle toptoekennings. Tydens die Wêreld Kampioenskappe op die Bloemfonteinse skou is De Wet aangewys as Reserwe Senior Kampioen, terwyl hy ook bekroon is as Groot Kampioen op die Pretoria Skou. Hoe dan anders as jy ‘n afstammeling is van ‘n pa-ram wat verlede jaar die Reserwe Senior Kampioen was tydens die wêreldkampioenskap op Upington?

Mens kan nou dink dat dit baie geld is vir ‘n bokram, maar dit is maar ‘n duur storie om ‘n stoet te bedryf en ‘n ram van hierdie formaat in top kondisie te kry. Oom Tobie se seun, Joubert, vertel dat veral voer hulle vanjaar vanweë die uitgerekte droogtetoestande heelwat uit die sak gejaag het.

Die Fouries is sekerlik meer bekend by inwoners vir hul familiebesigheid, Limpopo Melkery. Tog strek die familie se boerbokbetrokkenheid terug na 1932. Hulle het in 2000 begin met die Kalahari Reds stoet, met die eerste lammers uit die stoet wat in 2001 gearriveer het.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines