

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 December 2008
In wat beslis as ‘n betreurenswaardige ongeluk gesien kan word, het ‘n swaar vragmotor met ‘n vrag mielies wat op pad na Zimbabwe was, agter teen ‘n bakkie gebots en omgeslaan. Die gevolg was dat die bergpas oor die Soutpansberg, tussen Mountain Inn en Ingwe Ranch, vir ‘n paar uur gesluit moes word en verkeer ompaaie moes volg.
Die ongeluk het vroeg Woensdagoggend plaasgevind, kort na die draai anderkant Eagle’s Nest, net voor die pad skerp begin daal en kronkel na Ingwe. Beide voertuie was op pad vanaf Suid-Afrika na Zimbabwe met voorrade. Die vragmotor, wat van Zimbabwe afkomstig is, het van agter in die bakkie, wat ook ‘n sleepwa aangehad het, vasgery. Die vrag moes verkeerd gelaai gewees het en die vragmotor het waarskynlik te vinnig teen die pas afbeweeg, aangesien dit baie gou buite beheer geraak en omgeslaan het. Die hele vrag van sakke mielies het oor die pad en teen die wal af gestrooi gelê.
Die tragedie is dat, benewens die skade aan die voertuie, daar waarskynlik baie min van die kos wat bestem was om die nood van die mense in Zimbabwe te help verlig, by hulle gaan uitkom. Verder het die insittendes van die bakkie ook skade gely in terme van hulle voertuig en hulle bagasie, waarvan sommige oor die skuins helling teen die afgrond af verdwyn het.

ADVERTISEMENT:
