ADVERTISEMENT:

 

Oud-leerder Rudolph Boshoff (links) van Hoërskool Louis Tri-chardt is steeds aan die presteer. As Graad 11-leerder van Hoërskool Menlopark is hy aangewys as Verskilmaker vir 2009 na afloop van die Tshwane Interskole Leierskapskompetisie vir 2008. Saam met hom afgeneem tydens die gala-aand van die kompetisie op 2 Desember is Loraine Kriek (Face of Tshwane Interschools). Foto verskaf.

Rudolph wil ‘n verskil maak in die nuwe jaar

 

News  Date: 12 December 2008

 

Top leerder Rudolph Boshoff, wat tot Januarie vanjaar ‘n leerling van Hoërskool Louis Trichardt was, is steeds aan die presteer. Hy is onlangs aangewys as Verskilmaker vir 2009 in die Tshwane Interskole Leierskapkompetisie, ‘n jaarlikse projek wat streef vir die identifisering en ontwikkeling van toekomstige leiers. 

Rudolph, tans ‘n Graad 11-leerder van die Hoërskool Menlopark, was een van 60 leerders uit 18 top skole in die Gauteng-area (wat insluit Hoërskole Menlopark, Waterkloof, Affies, Boys High, Girls High ens.) wat aan die kompetisie deelgeneem het.

Die kompetisie, vir Graad 10 en 11 leerders, word georganiseer deur die Junior Stadsraad van Pretoria en strek oor ‘n periode van etlike maande. Gedurende dié tydperk word die leerders onderwerp aan verskeie strawwe onderhoude. So het Rudolph die eerste onderhoude, elke keer deur ‘n nuwe span beoordelaars, oorleef. Hy, tesame met die oorblywende kandidate, is toe uitgenooi om in September vanjaar aan ‘n “Boot Camp” deel te neem.

Tydens dié kamp is leerders se uithouvermoë tot op die uiterste beproef. Hulle is een Vrydagaand omstreeks 23:30 by die kamp afgelaai, waarna hulle deur die nag tot middagete die volgende oggend “beproef en gedril” is. Die leerders is blootgestel aan omstandighede soos om sonder kos, slaap en geriewe oor die weg te kom. Tussendeur is daar verdere individuele onderhoude gevoer.

Ná die kamp is die leerders verder gesif, waarna die finaliste weer onderhoude moes meemaak, weereens met ‘n nuwe span beoordelaars. In hierdie stadium was daar net 15 van die oorspronklike 60 kandidate oor. Hierdie kandidate is toe uitgenooi na ‘n gala-aand op 2 Desember. Dit was tydens hierdie geleentheid dat Rudolph as Verskilmaker vir 2009 aangewys is. As wenner is hy uitgenooi om as gas van die Speaker die opening van die Parlement in Kaapstad in Februarie 2009 by te woon. Hy is ook ‘n eregas van die Junior Stadsraad van Pretoria vir 2009, terwyl hy ook ‘n geborgde “life coaching” kursus ter waarde van R6 000 ontvang. Hy sal ook mediadekking ontvang in die vorm van ‘n artikel in die tydskrifte Minimag en Get It, asook in die koerante Beeld, Rapport en Pretoria News. Rudolph sal gedurende die komende jaar die projekleier wees van ‘n proses om junior leiers te identifiseer en te ontwikkel. Ander pryse wat hy gewen het, sluit onder meer in ‘n spaarrekening van Nedbank met ietsie daarin en ‘n tandemsprong van die Pretoria Sky Diving Club ter waarde van R1 500.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines