

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 December 2008
Met kransaasvoëls wat as ‘n bedreigde spesie gelys word, staan die personeel van die Blouberg Natuurreservaat aan die voorpunt van die bewaring van hierdie voëlsoort. Die broeikolonie op die Blouberg word jaarliks gemonitor en met ‘n gemiddeld van tussen 500 en 600 neste wat tydens die broeiseisoen getel word, is hierdie kolonie een van die grootste, indien nie dié grootste nie, in die land.
Die reservaat het meer as tien jaar gelede ‘n projek geloods waartydens plaaslike gemeenskappe betrek en vergoed word ten opsigte van die bewaring van die spesie.
Kransaasvoëls lê hul eiers in Mei en broei uit in die begin van Julie. Met die aanvang van die reëns, gewoonlik in November, wil die jong voëls hul eerste vlug onderneem. Dikwels gebeur dit ten tyde van reën en die nat jong voëls vlieg dan net ‘n baie kort afstand voordat hulle te lande kom reg onder die broeikolonie. In Blouberg se geval is daar ‘n woongebied gevestig naby die kolonie.
Die aasvoëls wat so “reën” het ‘n bron van inkomste geword vir inwoners van hierdie woongebied wat die jong, nat voëls vang en dan aan muti-dokters verkoop. So het daar in 1993 ‘n projek ontstaan om te verhoed dat die jong voëls (soms tot 60 in ‘n seisoen) in die muti-handel beland. Soos reeds genoem, is kransaasvoëls as bedreig gelys in die IUCN se Red Data List, dus is elke jong voël wat herwin kan word ‘n belegging in die spesie se toekoms.
Die hulp van nie-regerings organisasies is in geroep en vandag speel die Trust vir Bedreigde Natuurlewe ‘n leidende rol in hierdie projek. Belonings word uitbetaal vir elke aasvoël wat herwin word. Dit is hoofsaaklik kinders wat die meeste voëls vang en dus speel een van die skole in die woongebied ook ‘n belangrike rol. Die skoolhoof is al vir baie jare ‘n integrale deel van die projek en dit onderskei ook sy skool van ander deurdat dit aktief deel neem aan ‘n bewaringsinisiatief.
Herwinde voëls word na ‘n sentrale versamelpunt geneem. Personeel van Blouberg Natuurreservaat word dan geskakel en die voëls word afgehaal en na die reservaat geneem vir rehabilitasie. Om toe te sien dat hierdie voëls so gemaklik en veilig moontlik vervoer word, het die Bosveld Jagtersvereniging (BJV) onlangs kratte aan die projek geskenk waarin die voëls vervoer kan word. In die meeste gevalle is dit slegs nodig om die jong voëls ‘n geleentheid te gee om goed af te droog, ‘n maaltyd te voorsien en na ‘n paar dae kan dit weer vrygelaat word.
Voor vrylating word die voëls gering en “vlerkplaatjies” aangebring wat elk ‘n unieke nommer het. Op dié wyse kan die beweging van die voëls gemonitor word. Goeie inligting is al hiervan verkry. Voëls wat egter nie geskik is vir onmiddellike vrylating nie word afgestuur na ‘n rehabilitasiesentrum naby DeWildt vir spesialisbehandeling. Indien die voëls weer geskik verklaar word, word hulle weer op die reservaat vrygelaat.
Jaarliks na afloop van die aasvoëlseisoen word daar ook ‘n beloningsdag by die skool in Indermark gehou. Tans ontvang elke deelnemer R120 per lewendige aasvoël. Sommige ontvang ‘n beloning vir ‘n aantal voëls. Sertifikate word uitgedeel asook T-hemde of ander aanmoedigingsgebare. Die geleentheid word ook gebruik om bewaringsopvoedig te doen en spesialiste op die gebied lewer lesings.
Vir meer inligting, skakel Johan van Wyk, bestuurder van Blouberg Natuurreservaat by tel. 015 593 0702. (Inligting en foto’s verskaf)

ADVERTISEMENT:
