

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 December 2008
Die woorde waarin Zoutpansberger verlede week verslag gedoen het oor die vragmotorongeluk op die bergpas tussen Mountain Inn en Ingwe was nog besig om gedruk te word, toe gebeur die volgende ongeluk alreeds op dié gevaarlike pad, hierdie keer regoor Mountain Inn, net oos van die hotel se ingang. Twee vragmotors was hierdie keer in die ongeluk betrokke.
Volgens die bestuurder van een van die vragmotors was hy op pad vanaf Musina na Gauteng, waar hy vandaan kom. Sy tenker was gelukkig leeg, anders was die ongeluk nog erger. Net na die uitgang by Mountain Inn vernou die dubbelbaan na ‘n enkelbaan, met ‘n dubbele sperstreep om die verkeer te beheer. Net voor die bestuurder heeltemal van baan kon verwissel, het verskeie voertuie die tenker na bewering verbygesteek, oor die dubbele sperstreep. In daardie stadium was die ander vragmotor, ‘n voertuig van Louis Trichardt Bierverskaffers, van die ander kant in aantog.
Ten einde ‘n botsing met dié vragmotor te vermy, het die verbygaande voertuie skerp voor die tenker ingesny, wat hom genoodsaak het om te rem. Dit het veroorsaak dat die bestuurder die voertuig nie kon beheer nie en dit het geknipmes, met die kajuit wat na regs gedraai het, voor die aankomende vragmotor in. Op sy beurt het die bestuurder van die ander vragmotor ook gerem, met dieselfde gevolg. Sy vragmotor het na links geknipmes en teen die tenker gebots, waarna die twee voertuie saam oor die pad gegly en teen die berg, reg onder Mountain Inn, beland het.
Verkeer is vir ‘n geruime tyd ontwrig, aangesien beide vragmotors verwyder moes word. Dit is egter nie ‘n eenvoudige prosedure nie en die twee voertuie moes letterlik eers uitmekaar gesleep word, voordat die vragmotor vol drank kon vertrek. Goeie nuus vir verbruikers is dat die vrag van dié vragmotor nie beskadig is in die ongeluk nie. Dieselfde kan egter nie van die padoppervlakte gesê word nie. Weens die hitte was die teer sag en heelwat daarvan is met die sleep van die vragmotor uitgekalwe, wat waarskynlik binnekort ‘n slaggat gaan word en ‘n verdere gevaar vir verkeer inhou.
Hierdie ongeluk was die vierde op die bergpas in die afgelope twee maande waarby vragmotors betrokke was.

ADVERTISEMENT:
