

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 January 2009
‘n Moedige Christili Muller vertel kalm hoe sy haar matrieksuitslae aan haar pa kon wys voor hy twee dae daarna oorlede is na ‘n lang stryd teen kanker.
“Ons is so dankbaar dat John nog haar uitslae kon hoor. Hy het net daarvoor gewag,” sê ma Annette. Hy het rede gehad om op sy jongste dogter trots te wees met haar nege onderskeidings in die 2008 senior eindeksamen.
Ousus Anneri (20) het op haar beurt pas haar tweede jaar as metallurgiese ingenieurstudent by Tukkies suksesvol afgelê. Sy het by pa John gebly, terwyl Annette en Christili die Limpopo Onderwysdepartement se prysuitdeling in Polokwane bygewoon het op 30 Desember. Dáár is aangekondig dat Christili een van die top 30 matrieks in die provinsie is.
Die Mullers het egter nie gebly vir die funksie se ete nie, maar is dadelik terug na hul plaas Welgevonden net buite Louis Trichardt om die nuus persoonlik te gaan deel.
“My pa het ons op die stoep gesit en inwag. Hy het nooit daaraan geglo om te gaan lê nie. Hy het vroeër probeer om my vakke en punte neer te skryf toe ek dit vir hom deurgebel het, maar die morfien het hom toe al ‘n bietjie deurmekaar gemaak. Hy was baie bly oor my uitslae,” sê Christili.
Haar onderskeidingsvakke is Afrikaans (huistaal) (86%), Engels (eerste addisionele taal) (80%), wiskunde (96%), wiskunde vraestel drie (84%), lewenswetenskappe (96%), fisiese wetenskappe (85%), rekeningkunde (87%), inligtingstegnologie (86%) en lewensoriëntering (88%).
Sus Anneri het self ‘n stewige vyf onderskeidings in die dae voor die nuwe kurrikulum behaal. Sy het in 2006 matriekeksamen geskryf, net na die nuus dat haar pa met kolonkanker gediagnoseer is.
Nuwejaarsdag was die enigste dag wat John nie uit die bed opgestaan het nie. Met sy vrou en twee dogters by hom, is hy om 17:00 oorlede.
Christili se droom was nog altyd om mediese dokter te word, nou des te meer na haar meelewing met haar pa se siekte. Sy gaan BSc Mediese Wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria studeer en is op die waglys vir keuring. Christili het plek gekry in dieselfde koshuis as Anneri, iets waaroor sy baie bly is.
Christili, ‘n leerlingraadslid van die Hoërskool Louis Trichardt, is baie bekend as kranige swemmer en het vier jaar lank provinsiale kleure vir swem verwerf. Sy het ook haar graad 6 Unisa klaviereksamen geslaag. ‘n Hoogtepunt in haar skoolloopbaan was die dag toe sy, Henri Boshoff en Gregory Byrnes as ‘n gedugte span die Minquiz Wetenskap Olimpiade gewen het.
Hierdie dapper agtienjarige meisie is gevra wie haar rolmodel is en wat haar advies aan mede skoliere is. “Ek bewonder baie, soos my pa en Natalie du Toit, maar nee, ek het nie ‘n rolmodel nie. Ek trap my eie spoor. My advies is: stel vir jou ‘n doelwit en hou jou oog daarop. Moenie toelaat dat enige struikelblokke jou keer om jou doelwit te bereik nie,” sê Christili.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
