ADVERTISEMENT:

 

Met nege onderskeidings is Henri Boshoff, hoofseun van Hoërskool Louis Trichardt, onder die top Graad 12-leerders in die provinsie. Foto verskaf.

Henri was byna onder provinsiale Top 10

 

News  Date: 09 January 2009

 

Met nege onderskeidings is Henri Boshoff, hoofseun van Hoërskool Louis Trichardt, vlak by die top tien Graad 12-leerders in die provinsie.

“Op die oomblik is my plan om aktuaris te word. Ek wil definitief met syfers werk,” sê dié slimkop, wat volpunte in die AMESA Wiskunde Olimpiade behaal het en landswyd onder die top tien in die Harmony Wiskunde Olimpiade was.  

Dis dan ook geen verrassing dat Henri 98% vir die wiskunde vraestel en 94% vir wiskunde vraestel drie behaal het nie. Henri se ander sewe onderskeidings is in Afrikaans (huistaal), fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, rekeningkunde, inligtingstegnologie, ekonomie en lewensoriëntering.

“Ek was verbaas oor die onderskeiding in inligtingstegnologie, maar ewe verbaas dat ek nie Engels gekry het nie,” sê Henri, wat tien vakke aangedurf het. Hy is laasjaar aangewys is as Triegie-van-die-Jaar en het ook met die bekers vir kultuur en akademiese fasewenner weggestap.

Voordat Henri vir vier jaar ‘n leerder by die plaaslike hoërskool was, was hy ‘n tuisskoler onder die hand van ma Nalize. Pa Willem, bekende dominee van die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente, het in Henri se laaste jare ‘n beroep aanvaar in Pretoria. Henri sê dat sy tuisskoling hom geleer het om op sy eie te gaan sit en self te leer sonder dat iemand vir hom die werk hoef te verduidelik.

Henri beskou sy pa as sy rolmodel omdat hy altyd ‘n kalmerende invloed in ‘n krisis uitoefen.

“My vaste geloof gee my die basis waarmee ek onstuimige dinge kan hanteer,” sê Henri, wat volgende jaar ver van die huis gaan wees by die Universiteit van Noordwes waar hy ingeskryf het vir BSc Bedryfswiskunde en Informatika.

Sy raad aan sy jonger skoolmaats is eenvoudig: “Daag op vir jou klas. Vra vrae in die klas. Doen jou huiswerk en leer vir toetse. Die grootste deel is wat jy deur die jaar van dag tot dag doen. Dan kan jy ook leer vir die eindeksamen.”

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines