

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 January 2009
Dit is met groot hartseer dat die gemeenskap verneem het van mnr. John Muller (53) se afsterwe op Nuwejaarsdag. John het tot die einde toe ‘n moedige stryd teen kolon- en later lewerkanker geveg en nie een dag gaan lê nie.
Salmon John Muller is op 8 Julie 1955 in Mosselbaai gebore. Hy het sy hoërskoolloopbaan aan die Outenikwa Hoërskool in George voltooi, waarna hy hom as landbou-ingenieur aan die Universiteit van Pretoria bekwaam het. Hy trou in April 1981 met Annette wat hy op Tukkies ontmoet, terwyl sy BSc Landbou studeer het. Twee dogters is uit die huwelik gebore, Anneri in 1988 en Christili in 1990. Annette is tans ‘n vakadviseur vir die provinsiale onderwysdepartement.
In 1994 vestig die gesin hulle op die plaas Welgevonden by Louis Trichardt waar John sy eie onderneming, Water 2000, begin en deeltyds met neute boer. Hy was geliefd onder sy kliënte, wat nie alleen baat gevind het by sy besproeiingskundigheid nie, maar ook sy stories geniet het.
John is op 1 November 2006 met kolonkanker gediagnoseer en het die volgende twee jaar intensiewe behandeling ondergaan. Hy het by tye baie goed op die behandelings reageer, maar in September verlede jaar is behandeling gestaak. Nietemin het hy elke dag gaan werk en was hy altyd besig en aan die gang.
“Die laaste twee weke in Desember was die pyn erg, maar John het voluit gelewe tot op die einde. Hy was moedig en positief en het homself nooit jammer gekry nie. Die enigste dag wat hy gelê het, was Nuwejaarsdag.” sê Annette.
“My pa kon grappies oor enige iets maak. Ek onthou die anti-dikbek lekkertjies wat hy ons gevoer het,” sê Anneri. Christili stem saam. “Al het ons hoe sleg of kwaad of hartseer gevoel, hy het dit altyd reggekry om ons te laat lag, “ sê Christili.
‘n Gedenkdiens vir John is Woensdag, 7 Januarie, in die NG Kerk Soutpansberg-gemeente gehou deur dr. Phillip Venter.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
