

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 December 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Die rower wat die sneller getrek het en sekuriteitsman Deon Geyer ernstig gewond het in ‘n gewapende rooftog in Mei vanjaar, is gearresteer. Intussen is Deon weer terug by sy hoë-risiko werk as kontant-in-transito begeleidingsbeampte.
Fanie Geyer, Deon se broer en direkteur van Soutpansberg Sektor Polisiëring, het ongeveer drie weke gelede inligting deurgegee aan Superintendent Hannes Snyders van die SAPD in Thohoyandou, waarna drie verdagtes gearresteer is. Een van die drie is positief geïdentifiseer as die persoon wat die skoot op Deon afgevuur het. Hy word ook verbind met verskeie ander misdade. Die ander twee word aangehou op veredere relevante roof- en misdaadklagtes wat tans ondersoek word. Verskeie bewysstukke is gevind wat met misdaadtonele in die dorp verbind kan word. Die rowers kan waarskynlik met ‘n hele netwerk van misdade verbind word. Hulle is tans in aanhouding in die polisieselle by die Makhado SAPD.
Deon het verskeie operasies ondergaan as gevolg van die koeël wat by sy wangbeen ingegaan het, beide kakebene beskadig het en by sy agterkop uitgegaan het. Die mees onlangse van nog twee groot kaakoperasies het hy in Augustus ondergaan. Die rede waarom hy moes teruggaan vir die operasies, is omdat daar twee Geyers in die Unitas hospitaal was en hy te vroeg ontslaan is, terwyl dit die ander Geyer was wat ontslaan moes word. Opvolgoperasies sal moontlik in die nuwe jaar gedoen word om die penne in sy kakebeen te verwyder.
Desnieteenstaande is Deon die afgelope drie maande terug by die werk.
"Dit gaan goed. Ek vorder en ek gaan nie lê nie," sê Deon, wat graag besig bly en nie wil stilsit nie. Hy werk nou by Big Five, ‘n kontant-in-transito sekuriteitsafdeling van sy broer se besigheid. Rentia Geyer, Deon se skoonsuster, sê dat ‘n groot verbetering in Deon se toestand merkbaar is.
"Hy lag weer, hy is weer gelukkig en hy werk elke dag."
Oor die misdadiger wat nou gevang is, voel Deon dat hy hom sou wou sien, en dat die skietery en gevolglike onkostes heeltemal onnodig was.
"Hy laat my broer derduisende rande betaal wat onnodig is."
Deon het ‘n spesiale woord van dank uitgespreek teenoor Fanie en Rentia vir hul bystand, asook die Nel-gesin van Mopane, en al die ander persone vir hul bystand. Die Geyers is almal dankbaar teenoor die gemeenskap. Hulle wil nie graag iemand uitsonder nie, maar vermeld tog Supt. Hannes Snyders se spesiale bydrae ten opsigte van die arrestasies en die hulp van drs. Spies en Labuschagné, Koos Brits, Mike Huysamen en Douw van Tonder.

ADVERTISEMENT:
