

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 January 2009
Die cholera-uitbreking in Zimbabwe, wat reeds die lewens van duisende mense in hierdie buurland geëis het, kring steeds verder suidwaarts uit oor die Suid-Afrikaanse grens. Volgens inligting het ten minste 25 mense in die Kutama-gebied, slegs sowat 40km vanaf Louis Trichardt, reeds sedert Kersfees aan cholera-verwante siektes gesterf.
‘n Paar weke gelede het die Departement van Waterwese en Bosbou bevestig dat die Limpoporivier oos van Musina reeds met cholera besmet is. Dié nuus het as ‘n groot skok gekom vir Suid-Afrikaners op die noordgrens wat die rivier vir huishoudelike- en besproeiingsdoeleindes gebruik. Die mees onlangse uitbreking van die siekte in Kutama, het ook as ‘n skok gekom met talle wat vrees dat die siekte maklik na Louis Trichardt kan versprei, aangesien baie mense daagliks tussen die dorp en Kutama pendel. Die vrees word verder vererger vanweë die haglike toestand van Louis Trichardt se rioolstelsel met rioolstortings wat feitlik daagliks voorkom.
Die provinsiale woordvoerder van die Departement van Gesondheid en Maatskaplike Ontwikkeling, mnr. Phuti Seloba, het hierdie week die cholera-uitbreking by Kutama bevestig.
“Ons departement is bewus van die probleem en het Sondag die area besoek,” het hy gesê. Hy het bygevoeg dat sy departement in die proses is om ‘n rehidrasiesentrum, soos die wat deur die regering op Musina opgerig is, by die Tshilwavhusiku Gesondheidsentrum op te rig. Ten spyte hiervan meen inwoners van die area dat die departement nie genoeg doen om die uitbreking hok te slaan nie.
“Mense gaan hier dood. Iets moet gedoen word,” was die woorde van ‘n gemeenskapslid, mnr. Muladelo Ramabila.
Die Louis Trichardt Gedenkhospitaal is ook gekritiseer. Daar word beweer dat cholera-pasiënte bloot pyntablette gegee is en weer ontslaan is. Een van hierdie pasiënte was Ramabila se ouma, wat na behandeling by die hospitaal ontslaan is. ‘n Dag later is sy dood.
Die Hoof Uitvoerende Beampte van die Louis Trichardt Gedenkhospitaal, mnr. Godfrey Tshimauswu, het by navraag beweringe verwerp dat die hospitaal van die cholera-pasiënte ontslaan het, voordat hulle toestand gestabiliseer is. Hy het bevestig dat 14 gevalle van cholera by die hospitaal gerapporteer is met ‘n verdere 34 moontlike gevalle.
Hy sê dat hulle van die pasiënte oorgeskuif het na die Tshilwavhusiku Gesondheidssentrum waar meer beddens beskikbaar is.
Die oorsprong van die cholera-uitbreking op Kutama is steeds onbekend. Die Departement van Waterwese en Bosbou het Dinsdag toetse gedoen om die kwaliteit van drinkwater in die area te bepaal, maar teen druktyd was die uitslae nog nie bekend nie. Teen Woensdagmiddag was daar volgens Seloba 48 nuwe gevalle van cholera oor die hele provinsie, wat ingesluit het tien nuwe gevalle by die Louis Trichardt Gedenkhospitaal.
“In hierdie stadium is daar 1 802 bevestigde gevalle van cholera in die hele provinsie,” het Seloba gesê.
Wat die Makhado Munisipaliteit se betrokkenheid betref in die dreigende krisis het hulle Woensdag onderneem om die grafte vir die oorledenes te grawe.

ADVERTISEMENT:
