ADVERTISEMENT:

 

‘n Gedeelte van die 1 800 mense wat kort voor Kersdag by die skouterrein op Musi-na gestrand was, waar hulle op die uitreiking van asieldokumente gewag het.

Vertragings met Zim-asielsoekers word ondersoek

 

News  Date: 16 January 2009

 

Beweerde ernstige vertragings in die uitreiking van asieldokumente op Musina is ongerymd en sal amptelik ondersoek word.

Suid-Afrika se hantering van mense wat uit die huidige Zimbabwiese rampsituasie vlug, is intussen skerp gekritiseer deur ‘n internasionale menseregte organisasie.

Die nasionale woordvoerder vir die departement van binnelandse sake, me. Siobhan McCarthy, het vandeesweek by navraag gesê die sogenaamde Seksie 22 permitte (tydelike asieldokumente) moet onmiddellik uitgereik word aan ‘n asielsoeker wat by die vlugteling ontvangsentrum op die skouterrein geprosesseer word.

Volgens algemene bewerings onder asielsoekers by die mobiele kantore op die Musina skouterrein is daar vertragings van tot drie weke in die uitreiking van die dokumente, ná afloop van die aansoekproses. Volgens hulle word die ontstellende toename in die getal mense wat op die skouterrein se parkeerarea saamdrom deur hierdie vertragings veroorsaak. (Kort voor Kersfees was daar digby 2 000 mense in haglike omstandighede daar saamgedrom.)

Bewerings is ook in omloop dat die vertragings die gevolg is van korrupte amptenare wat bereid is om die uitreiking te “bespoedig” teen betaling.

McCarthy sê die departement is nie bewus van hierdie bewerings nie en weet ook van geen rede waarom die dokumente nie onmiddellik uitgereik kan word nie. Sy het onderneem om met die kantoor op Musina in verbinding te tree oor die aangeleentheid en ‘n beroep gedoen op mense wat weet van ongerymdhede om soveel moontlik inligting aan die departement te besorg oor datums, tye en amptenare wat betrokke was. Alle amptenare dra naamplaatjies.

Die dag voor Kersfees was nagenoeg 1 800 mense uit Zimbabwe gestrand en saamgedrom op en om die stowwerige parkeerarea by die skouterrein, waar geen skuiling teen die elemente beskikbaar is nie. Die gestrande asielsoekers het op die smal sypaadjie langs die parkeerarea ingeryg gelê en te midde van opgehoopte rommel en vullis op die oorkantste sypaadjie in blikke oor oop vuurtjies probeer koskook.

Hulle ontvang geen versorgingsaandag van die Suid-Afrikaanse owerhede nie.

Intussen het die internasionale menseregte organisasie Human Rights Watch die afgelope week gesê Suid-Afrika se voortgesette deportasie van Zimbabwiërs wat uit hul land vlug, is ‘n skending van die mees basiese menseregte van die vlugtelinge. Die organisasie het ook die omslagtige asielsoekproses gekritiseer en sê oorweging moet geskenk word aan ‘n tydelike permitstelsel wat aan alle Zimbabwiërs vlugtelingstatus sal toeken, tesame met die reg om in Suid-Afrika te kan werk.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines