

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 January 2009
Dit wil voorkom asof die geleerde mense by die Suid-Afrikaanse Weerdiens se voorspelling van ‘n goeie reënjaar sover in die kol is.
Die huidige goeie neerslae oor die streek bring welkome verligting vir boere en ook huiseienaars wie se tuine die afgelope paar maande maar sleg agteruitgegaan het vanweë streng waterbeperkings soos die geval op Louis Trichardt.
Teen einde Oktober verlede jaar het die prentjie maar sleg gelyk. In daardie stadium het ‘n uitgerekte droogtetydperk reeds baie boere forseer om teen groot koste hul diere te begin voer. Daar was ook geen aanduiding van verligting nie. ‘n Senior weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, mnr. Mark Todd, het toe aangedui dat weerpatrone aandui dat die streek se goeie reën eers van einde Desember sal begin uitsak. Intussen het baie op hul knieë gegaan en gebid vir reën.
En hul gebede is verhoor ...
Vir menige inwoner wat die afgelope Desember skoolvakansie in Jan Tuisbly se karretjie gery het, was dit ‘n heerlike nat Desember. Januarie is sover ook net so lekker nat.
Volgens mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg DLU, het meeste boere in die streek reeds reën gedurende Januarie gehad. Tot einde verlede week is daar op Alldays op plekke tussen 10mm en 180 mm gemeet. Op Vivo is daar reeds plek-plek tussen 10mm en 50mm vir Januarie aangeteken en Bandelierkop het tot in daardie stadium 23mm vir Januarie, 9mm vir Desember en 285mm vir November verlede jaar gemeet.
Op Levubu was daar tot die naweek, volgens Hoffmann, maar nog net 15mm vir Januarie gemeet en op Linton (naby Musina) tussen 50mm en 200mm.
Louis Trichardt spog met ‘n mooi 80mm vir Desember en meer as 120mm vir Januarie. Dit sluit nie die goeie neerslae van die afgelope week, en veral Dinsdag, in nie. Tydens ‘n wolkbreuk verlede Donderdag (8ste) het huiseienaars in die dorp tot 100mm in ‘n kwessie van ‘n uur gemeet. Buite die dorp het plekke tot op hede so min as 21mm reën vir Januarie gehad. Op Waterpoort is daar 10mm en 70mm plek-plek gemeet.
Wat die stand van die vernaamste damme in die streek betref, blaai na bladsy 6 vir hierdie uitgawe. Dit kan net genoem word dat daar tussen 5 en 12 Januarie 44mm reën in die opvangsgebied van die Albasinidam geval het. Tog het die vlak van die dam steeds gedaal vanaf 27,2% tot 26,9% in dié tydperk.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
