ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Bennie Rheeder, wat einde verlede jaar swaar gewond is deur ‘n voormalige werknemer van hom, was die afgelope week weer terug in die hospitaal vir behandeling.

Rheeder weer terug in die hospitaal

 

News  Date: 16 January 2009

 

Mnr. Bennie Rheeder van Louis Trichardt moes die afgelope week weer opgeneem word vir behandeling in die hoësorgeenheid van die Unitas Hospitaal in Centurion.

Die 34-jarige Rheeder is op 27 November verlede jaar swaar gewond, toe ‘n voormalige werknemer van hom, die 46-jarige Victor Posthumus, met ‘n .38-rewolwer op hom in sy winkel op Louis Trichardt losgebrand het. Rheeder is vyf keer, drie skote in die rug en twee in die linker boarm, getref. Posthumus het daarna homself doodgeskiet.

Kort na die skietery is Rheeder na die Zoutpansberg Privaathospitaal gehaas. Daar is sy toestand gestabiliseer, waarna hy oorgeplaas is na die MediClinic in Polokwane. Later dieselfde dag is daar op Rheeder opereer om die vernietigende skade van die skote aan sy boarm te herstel. Hy moes ondermeer ysterplate in die arm kry. Een van die skote het Rheeder se hart met ‘n skrale 10cm gemis. ‘n Week na die skietvoorval is Rheeder oorgeplaas na ‘n gewone saal na ‘n paar angsvolle dae in die intensiewe eenheid van die hospitaal.

Rheeder het in so ‘n mate herstel dat hy Kersfees en Nuwe Jaar saam met familie en vriende by die huis kon deurbring. Hy was egter deurlopend op pynmedikasie. Verlede Woensdag is hy egter vanweë die voortdurende pyn weer opgeneem vir behandeling. Daar is toe vasgestel dat die pyn veroorsaak word deur ‘n lekkende aar in die beskadigde linkerarm. Sy eggenoot, Ilse, het Dinsdag gesê dat dokters Maandag ‘n kunsmatige veer om die aar ingeplant het om dit oop te rek.

“Ons hoop dit gaan nou beter gaan,” het Ilse gesê. Te midde van die trauma waardeur die jong ouerpaar van twee dogtertjies die afgelope paar weke gegaan het, bly Ilse-hulle positief. In daardie stadium was Rheeder steeds in die Unitas Hospitaal se hoësorgeenheid, maar volgens Ilse sou hy Woensdag oorgeplaas word na ‘n gewone saal. Rheeder sal ook binnekort ‘n ortopeed besoek sodat hy kan begin met die rehabilitasie van sy arm.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines