ADVERTISEMENT:

 

Harte geroer tydens uitreik na Zimbabwe

 

News  Date: 16 January 2009

 

“Ons kyk nou met ander oë na Suid-Afrika, ná ons terugkoms uit ‘n plek wat verskriklik is. Ons mag regtig nie kla nie,” sê lede van die NG Kerk se uitreikaksie wat kos en mediese voorrade vanaf Louis Trichardt aan behoeftige bejaardes in Zimbabwe gebring het.

Die spanlede is deur dankbare bejaardes in Zimbabwe gemoedelik begroet as “die engele uit Louis Trichardt.”

Oor die Christengemeenskap in Zimbabwe is die span dit eens: “Hulle lewe nader aan die Here as ons. Hulle bly biddend op hul knieë.” Die span is getref deur die hartlike samewerking tussen die verskillende kerkgenootskappe in Zimbabwe.

“In alles is almal bymekaar.”

Die uitreikspan, wat te make gehad het met lang toue by die grenspos en talle padblokkades op hul verskillende roetes, het treffende getuienisse dat alles ten goede meewerk (selfs ‘n verkeerde padaanduiding help dat die regte mense op die regte tyd op die regte plek mekaar ontmoet) en dat heeltemal niks “toevallig” gebeur nie.

Die spanlede se geesdrif vir opvolgbesoeke is treffend saamgevat deur een jong lid se verklaring: “Ek sal beslis weer gaan. Al moet ek met ‘n sak brood deur die Limpopo swem, sal ek, as dit moet.”

Hulle is besonder geraak deur die gasvryheid, die rustige medemenslikheid, opregte dankbaarheid, vergewensgesindheid en algehele gebrek aan bitterheid, selfs onder voorheen skatryk boere wat alles verloor het en nou bereid is om selfs die bietjie wat hulle het met ander te deel. 

Die span vertel verstommende verhale van redding en uitkoms.

Hulle vertel van ‘n merkwaardige vrou wat op 92 nog selfversorgend en ‘n meelewende steunpilaar in haar gemeente is; van ‘n bejaarde vrou wat haar man en haar seun in die bosoorlog verloor het, self ‘n slagoffer was van ‘n landmynontploffing waarin sy haar een been verloor het, en nou nog ná al die jare met een kunsbeen ‘n versorgingsoord bedryf wat sy self gevestig het.

Hulle is getref deur die ongelooflike deernis waarmee ‘n eens invloedryke sterk boer en sy vrou vanuit ‘n kliniek op ‘n beskeie uithoekie selfs hul voormalige plaasbesetters se siekes versorg. Daar is ook die verhaal van die verrassende wending in ‘n lewensbedreigende plaasbesetting, toe die desperate boer, wat hom in sy plaashuis op die einde voorberei het, deur ‘n bevelvoerder by ‘n padblokkade ontbied is om te help met die verwydering van die plaasbesetters! Op onverwagse wyse het die polisiemag besluit om te kom help.

Vir die uitreikspan was die besoek egter meer as net die uitdeel van kos en medisyne. Heelwat tyd en aandag is gewy aan persoonlike kontak, bemoediging en morele steun.

Spanleier Andries Smal sê beplanning is reeds aan die gang vir die volgende uitreik - waarskynlik in April, waarin die klem heeltemal sal verskuif na meer persoonlike sorg. Hy het groot dankbaarheid vir die waardevolle bydraes wat van borge en verskaffers ontvang is. Hy sê die reaksie by gemeentes was so oorweldigend dat dit soms moeilik was om die invloei te hanteer.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines