

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 May 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Munisipale werkers het die afgelope naweek pal gewerk om teen hoë koste die rioolprobleem in die industriële gebied op te klaar.
By die kruising van die treinspoor en Malherbestraat het die stank onuithoudbaar geword. Aanvanklik het inwoners gedink dat dit bloed van die slagpale is wat die reuk veroorsaak, maar later is die geblokte rioolstelsel as die sondebok aangewys.
Die Direkteur: Tegniese Dienste van die Makhado Munisipaliteit, mnr. Masindi Mapholi, het die gebied Woensdag besoek. Daarna het stadsingenieur, mnr. Gideon van Zyl, 'n spesiale masjien gehuur en sewe meter diep laat grawe om 'n lang stuk ondergrondse rioolpyp te vervang. Die koste daaraan verbonde was R70 000.
Omdat daar egter nog steeds 'n blokkasie was, is die mangat naby die treinspoor aan die noordekant van Malherbestraat oopgegrawe. Dit is die mangat op die gesamentlike lyn van Louis Trichardt Abattoirs en Dinnermates.
"Die riool is nou oop en die water het afgevloei; ons het ook chloor gegooi om die reuke te verbeter," het mnr. Van Zyl op Maandag, 10 Mei, gesê.
Die munisipaliteit beplan aparte rioollyne vanaf Louis Trichardt Abattoirs en Dinnermates na 'n nuwe mangat in die middel tussen die twee industrieë anderkant die treinspoor.
Mnr. Arie Steyn, algemene bestuurder van Louis Trichardt Abattoirs, het gesê dat dit goed sal wees indien hulle hul eie rioollyn sou kry. Hy sê dat 'n mens moet onthou dat die dorp uitbrei en dat die munisipaliteit voorsiening moet maak om ook groter volumes ten opsigte van riool te hanteer.

ADVERTISEMENT:
