

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 January 2009
Dit was die laaste strooi vir die belastingbetalers van Louis Trichardt toe die Makhado Munisipaliteit hul ultimatum van 15 Januarie geïgnoreer het.
Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) het in Augustus verlede jaar amptelik ‘n dispuut verklaar met die Makhado Munisipaliteit. Dit het gevolg op die munisipaliteit se volgehoue swak dienslewering ten opsigte van ondermeer die haglike toestand van die dorp se rioolstelsel, watervoorsieningsnetwerke, paaie, administrasie en finansiële bestuur. Na samesprekings met die munisipaliteit het die SBBV egter in Oktober besluit om die dispuut tot 15 Januarie terug te hou, onderhewig aan sekere voorwaardes. Dit het behels dat die munisipaliteit voor hierdie datum met haalbare planne, gekoppel aan sperdatums en begrotings, moes kom om die SBBV se klagtes aan te spreek.
“Ons het die einde van die pad bereik met betrekking tot onderhandeling met ‘n onbetroubare amptenary wat geen integriteit openbaar met ondernemings wat gegee word op publieke vergaderings nie. Die senior bestuur van die Makhado en Vhembe munisipaliteite maak hulle skuldig aan gedrag wat aan kriminele versuim grens,” het die voorsitter van die SBBV, mnr. Herman Smith, Dinsdag in ‘n persverklaring gesê. Die SBBV sê dat hul enigste uitweg nou is om so spoedig as prakties moontlik belastings en heffings in ‘n trustrekening in te betaal om dit onder die beheer van die Makhado Munisipaliteit weg te neem.
Daar sal nou oorgegaan word na die volgende stappe in die dispuutproses. Die stappe sluit nie net in die weerhouding van munisipale belastings nie, maar ook optrede teen bestuurders, direkteure en raadslede van die munisipaliteit. Die SBBV som die munisipaliteit se optrede, of gebrek daaraan, op as “die kwaadwillige en kriminele ignorering van belastingbetalers se bekommernisse en regte en die feit dat die munisipaliteit die lewens van die gemeenskap willens en wetens in gevaar stel.”
Die verskillende aspekte wat die belastingbetalers pla, is al dikwels aan die groot klok gehang. Die rioolbesoedeling en watertoestand is oorbekend. Riool word vrylik in die veld ingepomp en die rioolaanleg is buite werking. Riool loop verby of deur die onbruikbare rioolaanleg vir kilometers ver, verby boorgate wat vir drinkwater gebruik word. Slagpale in die industriële gebied word gedwing om riool, bloed en ander afval in slote in te pomp wat teen die spoorlyn gegrawe is.
Hierdie en ander rioolstrome syfer onder die spoorlyn uit, loop in die Dorpsrivier af, en ook verby of deur die verwaarloosde, onbruikbare rioolaanleg.Drinkwater is dikwels dae aaneen nie beskikbaar nie en die kwaliteit daarvan is steeds onder verdenking.
Die SBBV is verbied om die watersuiweringsaanleg te inspekteer en die amptelike aansoek om die aanleg te besoek is na 18 maande nog nie beantwoord nie.
Paaie in Louis Trichardt is steeds in ‘n bedenklike toestand en is verby die stadium dat dit net geseël kan word. Die proses rondom die eiendomswaardasies en –belasting is ook ‘n bron van groot beswaar. Dit is nie tydens die Oktobervergadering tussen die SBBV en die munisipaliteit bespreek nie en ‘n opvolgvergadering of seminaar in dié verband is hierdie week Dinsdag gehou. ‘n Spreker van die Suid-Afrikaanse Raad van Waardeerders het ‘n voordrag gelewer oor die korrekte prosedures.
Die SBBV sê dat die munisipaliteit veral gefaal in die konsultasieproses en die waardasieproses.
‘n Nuwe punt onder die SBBV se finansiële klagtes van wanbestuur is die onlangse eensydige hergradering van die Makhado Munisipaliteit.
“Die Makhado Munisipaliteit het hulself van ‘n klas sewe tot ‘n klas nege munisipaliteit verhef, in weerwil van SALGA (South Africa Local Government Association) se afkeuring daarvan en sonder dat daarvoor begroot is vir die 2008/9 finansiële jaar. Die finansiële impak is nie in hierdie stadium duidelik nie, maar dit kom neer op ‘n ongeveer 35% verhoging in vergoedingspakette vir die hele werkerskorps en ‘prestasiebonusse’ word ook uitgedeel,” lui die SBBV persverklaring.
Politieke binnegevegte tussen die munisipale bestuurder en die vorige burgemeester het ook kostes meegebring wat uiteindelik deur die belastingbetaler betaal word.
Ten opsigte van bogenoemde sê die SBBV dat die Makhado of Vhembe munisipaliteite nie meer met belastinggeld vertrou kan word nie.
“‘n Kultuur van ontoerekenbaarheid en onverantwoordelikheid is geskep deur oneffektiewe, onaantasbare senior amptenare en raadslede en het ontwikkel tot ‘n munisipaliteit wat nie die belange van die belastingbetalers op die hart dra nie, maar vir eie verryking werk. Geen mate van effektiwiteit kan bespeur word in die besluite en aksies van die hoogs-betaalde publieke amptenare nie,” sê die SBBV.
‘n Skriftelike navraag oor die dispuut, wat deur die Zoutpansberger op 12 Januarie gerig is, was teen druktyd steeds onbeantwoord.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
