

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 December 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Wanbetaling van skoolgeld beïnvloed die kwaliteit van onderrig. Ouers word gevra om die betaling van skoolgelde ‘n bietjie hoër op hul prioriteitslys te plaas.
So vra mnr. Johan Calitz, adjunkhoof van Hoërskool Louis Trichardt met 850 leerders, aan die einde van ‘n skooljaar waarin 30% van die ouers aangemaan moes word vir skoolgelde. Mnr. Calitz sê dat dit nooit sal gebeur dat ‘n kind onderrig geweier sal word of uit die skool gesit sal word, indien skoolgelde nie betaal is nie. Die skool begroot egter net vir die absoluut noodsaaklikste en moes alreeds kapitaalprojekte afskaal.
Mnr. John Whiteley, hoof van Laerskool Soutpansberg met 570 leerders, sê dat 10% van die ouers in die kategorie val wat beurse ontvang of wat gedagvaar word vir wanbetaling van skoolfonds. In laasgenoemde geval word ‘n gedeelte van die geld teruggekry, maar die skool verloor baie aan regskoste. Die skool werk op ‘n begroting van R1,2miljoen en ontvang geen toewysing van die staat buiten die salarisse van onderwysers met departementele aanstellings nie.
"Ongelukkig is dit ‘n realiteit dat as die skoolgeld nie inkom nie, dit die gehalte van onderwys sal beïnvloed. Minder personeel sal in diens van die Beheerliggaam aangestel kan word, terwyl die leerlingtal nie verminder nie," sê mnr. Whiteley. Hy maan ouers ook om hard te probeer om skoolfonds te betaal, omdat skoolfonds van die skool ‘n beter skool maak. Whiteley meen dat skole in die dorp nog baie goedkoop is teenoor skole in Polokwane en Pretoria. Die Graad 1 tot 7 leerders by Laerskool Soutpansberg betaal R180 oor elf maande. Sewe bykomende onderwysers word deur die Beheerliggaam betaal.
Mnr. Kobus Barkhuizen, voorsitter van die Beheerliggaam van Laerskool Louis Trichardt met 800 leerders, sê dat hulle maar die gewone probleme ondervind met ouers wat nie betaal nie. Die skoolfonds beloop R1 400 per jaar of R140 per maand oor tien maande. Teen Oktober begin die proses om die ouers wat wanbetaal, te oorhandig. Die waarnemende hoof, me. Irene Adendorf, sê dat ouers nie vroeg genoeg in die jaar kom reëlings tref indien hulle probleme ondervind nie. Sommige ouers voer trots of skaamte aan as rede waarom hulle nie kom praat het nie. Me. Adendorf beklemtoon ook dat geen kind benadeel word nie. Dit is in lyn met die waarskuwing van onderwys LUR, Me. Joyce Mashamba, aan Limpopo skole dat arm kinders nie uitgesluit mag word nie.
Die skoolgelde van Hoërskool Louis Trichardt beloop R285 per maand oor tien maande, of R2 850 per jaar vir die eerste kind van ‘n gesin. Die tweede kind betaal R2 700 per jaar, terwyl ‘n derde en vierde kind elk R2 600 per jaar verskuldig is. Mnr. Calitz sê dat ouers wat sukkel, reëlings moet kom tref. Dit is die ouers wat geen reëlings tref nie, wat aan die invorderaars oorhandig word. Mnr. Calitz sê dat daar beurse beskikbaar is volgens riglyne deur die departement. Algehele kwytskelding word oorweeg wanneer die gesamentlike bruto inkomste van albei ouers minder is as die skoolgeld per jaar met tien gemaal. Verder is daar glyskale waarvolgens ouers vir gedeeltelike kwytskelding kwalifiseer. Die onus rus egter op ouers om vir kwytskelding aansoek te doen

ADVERTISEMENT:
