ADVERTISEMENT:

 

Wat gebeur as ´n skool jou kind toegang weier?

 

News  Date: 23 January 2009

 

‘n Moeder met ‘n kind wat Graad 11 twee maal gedruip het, soek hot en haar na ‘n skool om haar kind te akkommodeer.

“Ek wil my seun weer by Hoërskool Louis Trichardt inskryf, maar die skool het aangedui dat hy nie langer welkom is daar nie,” sê die moeder van die seun. Hy word oor ‘n paar maande 18 en as minderjarige word hy nie geïdentifiseer nie.
 
Die moeder, ‘n enkelouer wat elke dag ongeveer 60km van Buysdorp na die dorp reis vir werk, wil graag haar seun in ‘n nabygeleë skool plaas. Die plaaslike Afrikaanse hoërskool is haar eerste keuse en sy voel baie sterk daaroor om hom weer geakkommodeer te kry in die skool waar hy die afgelope paar jaar gestudeer het. Die moeder sê dat haar seun aan die einde van verlede jaar ‘n brief van die hoërskool ontvang het wat sê dat hy op ‘n waglys vir 2009 geplaas word. Sy sê dat sy in ‘n gesprek met die hoof gehoor het dat hy nie doen wat van hom verwag word nie en dat hy nie huiswerk inhandig of take voltooi nie. Daar is ook ander inkriminerende sake genoem.
 
Tog sê die moeder nou dat haar seun haar “die versekering gegee het dat hy dit werklik ernstig bedoel om klaar te maak met skool.”
Aangesien die moeder nie hierdie jaar, voor die skole begin het, daarin kom slaag om ‘n afspraak met die skoolhoof, mnr. Henry Denner, te kry nie, het sy haar seun Woensdag (14de) skool toe gestuur. “Ek stuur my kind skool toe en behalwe dat hy vakke moes verander omdat dit nie meer aangebied word nie, moes hy hoor via die dame by die toonbank dat die hoof hom nie langer in sy skool wil hê nie en dat hy ander planne sal moet maak,” skryf die moeder in ‘n brief aan die Zoutpansberger.
 
Mnr. Denner het op 20 Januarie gesê dat die skool in ‘n brief, saam met die seun se rapport, geskryf het dat hy reeds twee kanse gehad het om Graad 11 te slaag, maar gewys het dat hy nie in akademie belangstel nie. Die skool het voorgestel dat die moeder alternatiewe opleiding met hom moet probeer.
 
“Ons wag nou vir die kringbestuurder van die onderwysdepartement om na die skool te kom vir ‘n gesprek met die seun, sy moeder en myself, waarna oor die saak besluit sal word,” het mnr. Denner gesê.
Die kringbestuurder, mnr. Netshia, is hierdie week genader, maar hy het nie ingewillig om enige besonderhede te gee of ‘n datum te verskaf waarop hy die skool sal besoek nie.
Volgens inligting het skole sekere magte rondom die toelating van kinders, maar die onderwysdepartement het die finale sê. Leerders mag ook nie twee jaar ouer as hulle klasmaats wees nie. Die seun in die betrokke geval word dus nie op grond van die ouderdomsreël geweier nie. Wat gedragsprobleme betref, kan ‘n skool ‘n oortreder tydelik vir sewe dae skors. Permanente uitsetting vind met goedkeuring van die departement plaas.
 
Intussen bly daar steeds die dilemma van ‘n ouer met ‘n kind wat herhaaldelik druip.
“Ek sit egter nie stil aan hierdie kant nie,” sê die moeder, wat verskillende alternatiewe ondersoek, terwyl sy wag dat die kringbestuurder van die onderwysdepartement na haar terugkom. Sy sê ook dat daar sekerlik ander is “wat met presies dieselfde ding sit”. Sy het ondervind dat al die omliggende skole vol is, net hier en daar word haar seun op ‘n waglys geplaas, ook soms met die voorwaarde van suksesvolle toets­aflegging.
 
‘n Kind wat die ouderdom van 15 bereik of Graad 9 afgelê het, watter een ookal eerste plaasvind, is nie meer skoolpligtig nie en die verantwoordelikheid verskuif dan in ‘n sekere sin na die ouer om toe te sien dat die kind opgelei word.
Alternatiewe opleiding sluit in korrespondensiekursusse, privaatskoling en FET (Further Education and Training) kolleges.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines