ADVERTISEMENT:

 

Kerke moet dringend betrokke raak met Zim hulp

 

News  Date: 23 January 2009

 

Alle kerke op Louis Trichardt en Musina behoort volskaals betrokke te raak by die verligting van die nood van Zimbabwiese vlugtelinge.

Die Bybelse opdrag ten opsigte van die hantering van vreemdelinge is die afgelope Sondag dringend en helder in die kollig geplaas in ‘n opsienbarende preek deur dr. Piet Kruger, emeritus sendeling predikant van die Gereformeerde Kerk op Louis Trichardt. Hy het as gasprediker in die Soutpansberg NG-gemeente opgetree. Die inhoud van die preek is na afloop van die erediens op plekke druk deur kerkgangers bespreek.

Die verantwoordelikheid van Christenkerke in Suid-Afrika om toe te sien dat vreemdelinge ordentlik behandel en deeglik versorg moet word, is onder meer in die preek beklemtoon deur die Bybelse opdrag dat vreemdelinge soos jou eie mense behandel moet word.
Hy het uit Levitikus 19 aangehaal, wat lui: “... as ‘n vreemdeling by jou in julle land vertoef, mag julle hom nie verdruk nie. Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos ‘n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself.”
 
Dr. Kruger sê: “As Christene se roeping is om sout en lig van die aarde te wees, waarom is daar so min sigbare betrokkenheid van gemeentes by die nood van die mense van Zimbabwe?”
 
Hy het verwys na die groot getal Zimbabwiese vlugtelinge wat hulleself op Musina onversorg en in haglike omstandighede bevind en na dié wat uitgeput en haweloos te voet vanaf Musina op Louis Trichardt aankom, en aangedui dat daar voldoende potensiaal in Suid-Afrika is om hierdie mense ordentlik te versorg. Kerklidmate het die verantwoordelikheid om hierin ‘n voorbeeld te wees vir ander.
 
Hy het die uitreik na die Zimbabwiese vlugtelinge verbind met die sendingopdrag en die roeping van elke gelowige om Jesus Christus se liefdevolle verlossingsboodskap daagliks op alle vlakke aktief en energiek uit te dra.
Onderhoude met kerkleiers op Louis Trichardt dui daarop dat sommiges onder die wanindruk verkeer dat dit onwettig is om hulp te verleen. Dié opvatting het ontstaan weens ‘n skeefgetrekte vertolking van ‘n gedeelte van die Suid-Afrikaanse Immigrasiewet, wat die onwettige binnekoms van ongewenste persone wil verhoed.
Artikel 42 van dié wet sluit egter uitdruklik “humanitêre hulp” uit van die definisie van “onwettige hulpverlening aan onwettige immigrante.”
 
Asielsoekers (soos wat die meeste Zimbabwiërs op die oomblik is) word ook uitdruklik uitgesluit uit die definisie van ‘n onwettige immigrant.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines