

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 December 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - ‘n Verrassing het vir Annette Fensham in die pos gewag, nadat sy op die ingewing van die oomblik een van haar gedigte ingestuur het vir die Poetry Institute of Africa se jaarlikse digkunskompetisie.
"Dit is die eerste keer dat ek die moed bymekaar geskraap het om ‘n Engelse gedig vir publikasie in te stuur," sê Annette. Nadat sy in die Zoutpansberger van dié kompetisie gelees het, het sy sommer impulsief ‘n gedig uit haar stapel gedigte geneem en ingestuur. Sy hoop dat haar gelukkige ervaring ook ander plaaslike digters sal motiveer.
Annette se gedig Prostitute is aanvaar vir publikasie in ‘n kwaliteit, hardeband bloemlesing Trials and Tribulations. Haar gedig dring ook deur na die finale rondte van die digkunskompetisie, waarin prysgeld van meer as R10 000 aan digters in Afrika aangebied word. Vanjaar is die Poetry Institute of Africa se 29ste jaarlikse digkunskompetisie. Die besturende redakteur van die digbundel, Chantal Thomson, skryf dat dit ‘n groot prestasie is, omdat hulle duisende gedigte ontvang en net die bestes kan publiseer.
Annette, getroud met apteker Leon Fensham, het al sedert dertienjarige ouderdom Afrikaanse werke vir publikasie ingestuur. Die eerste publikasie van die jong Annette Steinberg was ‘n kortverhaal wat in die toentertydse tydskrif Patrys verskyn het. Daarna het haar gedigte gereeld in die publikasie Slingervel verskyn. ‘n Gedig van haar is aanvaar vir die bundel Laagwater. Die tydskrifte Sarie en Rooi Rose het ook tot so tien jaar terug gereeld kortverhale uit die pen van Annette Steinberg ontvang en gepubliseer.
Annette woon al sedert 1981 op Louis Trichardt. Dit is ook die jaar waarin sy met Leon getroud is. Annette is ‘n gekwalifiseerde verpleegster, maar is vasbeslote dat sy nie in die verplegingsberoep wil staan nie.
"Ek het soveel trane gestort saam met die pasiënte, veral die bejaardes wie se familie hulle net daar in die hospitaal los en van hulle vergeet," sê Annette. Haar meegevoel en ontroering kan egter op papier uitdrukking vind. Fensham kon haarself nog altyd maklik in Engels uitdruk, alhoewel sy nooit tevore haar Engelse werke ingestuur het nie.
Met die koms van die Fenshams se seun, Christiaan, nege jaar gelede, het Annette nie opgehou skryf nie, maar opgehou om haar werke vir publikasie in te stuur. Sy sê dat haar gesin en haar werk in die Da Silva apteek voorkeur geniet het.
"Nou het ek sommer weer lus om die hoop werke te sorteer en te kyk wat ‘n mens kan gebruik vir publikasie," sê Fensham.

ADVERTISEMENT:
