

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 February 2009
Meer as vyf maande na die dood van hul seun, is daar nog geen berusting vir Frik (68) en Sougnet Nel (63) van Louis Trichardt nie.
Hul seun, die 36-jarige Johan Nel, is op 8 September verlede jaar op slag dood, nadat sy voertuig en ‘n vragmotor naby Brits in Noordwes Provinsie gebots het. Beide voertuie het uitgebrand, met Johan wat in sy bakkie vasgepen was. Vyf maande later duur die familie se nagmerrie egter voort, want tot op hede wag Frik en Sougnet nog steeds op hul seun se oorskot.
“Ons wil net ons seun terughê, sodat ons hom kan begrawe. Dan sal ons ook berusting vind,” sê Frik.
Twee dae na Johan se dood het Frik en Sougnet saam met Avbob na Brits gereis om hul seun se oorskot op te eis. Daar aangekom is hulle egter meegedeel dat hulle nie die lyk mag vat nie, aangesien DNS-toetse eers gedoen moes word om te bepaal of dit wel Johan was wat in die ongeluk gesterf het.
Op 12 Desember verlede jaar, drie maande na Johan se dood, is Frik en Sougnet die eerste keer laat weet dat hulle hul seun se lyk by die staatslykshuis op Brits kan kom haal. Die uitslag van die DNS-toets was positief dat dit wel Johan was.
Avbob is toe afgevaardig om die liggaam te gaan haal, maar die Staat wou nie die liggaam aan Avbob oorhandig sonder die toestemming van die familie nie. Dit was ten spyte daarvan dat die familie reeds skriftelike toestemming aan Avbob verleen het.
Sowat ‘n maand later, op 5 Januarie, is Frik en Sougnet weer laat weet dat hulle Johan se lyk moet kom haal. Tot in daardie stadium het Avbob toe al ten minste sewe keer gepoog om die liggaam op te eis, sonder sukses. Aange-sien Frik en Sougnet nie weer verskonings wou hoor van “die familie self moet die lyk kom opeis nie” het hulle deurgery Brits toe op 14 Januarie.
Tot die ouerpaar se skok moes hulle egter met hul aankoms hoor dat Johan se lyk nie op-gespoor kan word nie en dat die liggaam weggeraak het. Dit het ‘n kettingreaksie aan die gang gesit vir ondersoeke wat gedoen moes word en op 22 Januarie het Frik en Sougnet nuus ontvang dat die rede waarom Johan se liggaam nie opgespoor kon word nie, is omdat hy reeds op 21 Oktober verlede jaar as ‘n armlastige begrawe is.
“In hierdie stadium is ons totaal in die duister oor wat volgende gaan gebeur,” het Frik Woensdag gesê. Hy kon wel bevestig dat daar ‘n hofbevel uitgereik is vir die opgrawe van Johan sy oorskot.
“Daar is egter nog ‘n verdere probleem. Die grafnommer van die munisipaliteit en die een verskaf deur die begrafnisondernemer verskil. Daardie dag het die betrokke begrafnisondernemer 13 liggame begrawe,” sê Frik. Alle aanduidings is nou dat die Nel-egpaar nog langer sal moet wag op die oorskot van hul seun, aangesien daar moontlik weer DNS-toetse gedoen sal moet word.
Wat ‘n verduideliking betref oor hoe die polisie en Departement van Gesondheid daarin kon slaag om Johan se oorskot te laat “wegraak,” het die adjunk-direkteur-generaal van gesondheid in Noordwes voorverlede week onderneem om die voorval volledig te ondersoek en voor 2 Fe-bruarie met antwoorde te kom. Nodeloos om te sê, teen Woensdag het die Nel-egpaar steeds gewag op hierdie antwoorde. Intussen het Frik en Sougnet met regstappe teen die Departement van Gesondheid en die polisie begin.
Emosioneel is die Nel-egpaar uitgeput en ontvang hulle steeds sielkundige- en doktersbehandeling. Buiten die emosionele aspekte, was daar ook ander krissise wat die ouerpaar moes oorkom. Vir maande het die egpaar gesukkel om ‘n doodsertifikaat te bekom, sonder sukses. Dié is egter vinnig uitgereik op 14 Januarie, nadat daar agtergekom is Johan se oorskot is vermis. Intussen kon geen polisse uitbetaal nie, terwyl daar aangehou is met die hef van maandelikse paaiemente. Johan se selfoondiensverskaffer wou hom glad dagvaar omdat hy opgehou betaal het. Dit ten spyte daarvan dat die Nel-egpaar almal omtrent drie of vier keer skriftelik in kennis gestel het, met polisieverklarings, van sy dood.
“Ek weet nie meer nie ... dit hou net nie op nie. Dit voel of jy in ‘n bubble is ... daar is net onsekerheid,” sê Frik. Mens kan sien hoe die emosie in hom opwel, terwyl hy veg om die trane terug te hou.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
