ADVERTISEMENT:

 

Kyk maar mooi na jou rekening

 

News  Date: 06 February 2009

 

Inwoners van Louis Trichardt en omstreke wat hierdie maand hulle munisipale water- en ligterekenings gekry het, moet seker maak hulle doen die moeite om die kennisgewing wat voorop gedruk is, te lees.

In die kennisgewing word daar aangedui dat die munisipaliteit tans ‘n aparte aanslag vir eiendomsbelasting hef en dat inwoners met die munisipaliteit moet skakel om die relevante inligting te verkry. Waarskynlik beteken dit dat mense sal moet gaan toustaan by die munisipale kantore om die tersaaklike inligting te bekom.

Die rede vir hierdie stap kon nie bepaal word nie. Verskeie vrae in hierdie verband is aan die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi gerig. Die skriftelike antwoorde wat ontvang is handel egter oor die vorige week se medianavrae oor die munisipaliteit se versuim om werkbare planne op die tafel te plaas om die gebrek aan dienslewering aan te spreek en die feit dat die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) nie verder gaan onderhandel nie, maar voortgaan om die weerhouding van belastings te implimenteer (sien berigte elders).

Die vrae wat aan Bobodi gestel is, is deur verskeie persone uitgelig en handel oor die praktiese uitvoerbaarheid van die geskeide rekenings, asook die redes daarvoor. Inwoners het waarskynlik oor die afgelope drie maande gemerk dat geen erfbelastingheffing op hulle water- en elektrisiteitsrekenings verskyn het nie. Geen rede vir hierdie stap kon van Bobodi verkry word nie. Die SBBV is tans besig met ‘n ondersoek na die regsgeldigheid van so ‘n stap. Die gevolg van hierdie versuim om belasting te hef beteken nou dat sommige inwoners waarskynlik al ‘n paar duisend rand aan die munisipaliteit verskuldig is – geld wat meeste mense nie sommer op een slag kan uithaal en betaal nie.

Nog ‘n vraag was hoekom die kennisgewing op die rekening so klein gedruk is. Die waarskynlikheid is groot dat meeste mense dit nie eers raakgesien het nie en dus nie daarop gaan reageer nie. Die logistieke implikasies van die munisipaliteit se be¬sluit is ook onduidelik, aangesien inwoners dalk nou in lang rye sal moet gaan staan om uit te vind wat hulle verskuldig is. Of addisionele toonbanke vir dié doel beskikbaar sal wees, is ook onduidelik.

Van die inwoners met wie daar gepraat is, het aangedui dat hulle hierdie stap as onnodig, ondeurdag en tydrowend beskou, aangesien die moontlikheid groot is dat mense in meer as een ry sal moet staan om die proses te deurloop. Niemand wat voltyds in ‘n beroep staan, sien daarvoor kans nie. Persone wat hulle rekenings gerieflikheidshalwe per Internet betaal, word nou gedwing om ook te kom toustaan.

Die SBBV het aangedui dat hulle dié stap sien as net nog ‘n bewys dat die munisipaliteit nog nie al die probleme rondom die waardasierol vir eiendomme uitgestryk het nie en dat dit net nog ‘n rede is om belastings te weerhou. Veral die feit dat belastings nie die afgelope drie maande gehef is nie, is ‘n rede tot kommer. Waarskynlik het nie een van die dorp se inwoners so ver gegaan om die “normale” eindomsbelasting verskuldig volgens die ou tariewe maandeliks te betaal nie. Dit bring mee dat almal noodwendig nou agterstallig is, terwyl die regsimplikasies daarvan nog nie duidelik is nie.

 

Written by

Nic Hoffmann

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines