

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 February 2009
Vir bykans ‘n uur en ‘n half lank is ‘n 56-jarige vrou voortdurend aangerand, nadat sy, saam met haar 60-jarige skoonsuster, by haar huis in Andersonstraat in Louis Trichardt deur ‘n bende gewapende rowers oorval is.
Die vrou, wie se naam op haar versoek nie gepubliseer word nie, het Dinsdag vertel van die skokgebeure wat verlede Vrydagaand by haar huis omvou het. Sy en haar skoonsuster, wat die aand by haar kom oorbly het aangesien dié se mans saam gaan hengel het, was alleen by die huis. Omstreeks 21:30 is hulle deur ‘n groep van vyf mans, drie met handwapens, oor-val. Die mans het onder meer Engels en vlot Afrikaans gepraat.
“Ons het in die kombuis gesit. Ek het iets gehoor en vir my skoonsuster gesê daar is iemand in die huis. Die volgende oomblik het my skoonsuster gegil, en met dié storm daar ‘n man die kombuis binne,” vertel die steeds-erg-geskokte vrou.
“Ek klap vir jou,” het die man die skoonsuster toegevoeg en sy dreigement opgevolg met ‘n klap. ‘n Tweede man het toe die eerste vrou gegryp en na die slaapkamer geforseer, terwyl dié se skoonsuster na die televisiekamer geneem is, waar haar hande en voete agter haar rug vasgemaak is. Onderweg na die slaapkamer toe, vertel die vrou, het sy gehoor hoe die man vir haar skoonsuster sê: “Ons ken hierdie huis. Die vrou wat voorheen hier gewerk het, het vir ons gesê waar die geld is.”
In die slaapkamer aangekom is die vrou herhaaldelik met die vuis in die gesig en teen die agterkop geslaan. Buiten die twee wat hulle in die kombuis aangeval het, was drie ander reeds besig om die slaapkamer te deursoek. Terwyl hulle die vrou geslaan het, wou hulle die heel tyd weet waar die geld is.
Die aanvallers het duidelik die roof haarfyn beplan. Almal, behalwe een, se gesig was bedek, terwyl almal gryserige wolhandskoene gedra het. Hulle het toegang tot die erf verkry deur vanaf ‘n aangrensende leë huis se motorhuisaf-dak, oor die amper twee-meter-hoë elektriese heining te spring. Daarna het hulle ‘n piksteel gebruik om die diefwering by die vrou se kamervenster af te breek. Hulle het ook presies geweet watter tipe onderneming die vrou en haar man bedryf en waar dit geleë is. Hulle was ook duidelik daarvan bewus dat die twee vroue dié betrokke aand alleen by die huis sou wees.
“Ek vermoed daar moes ten minste nog twee buite gewees het. Daar was een wat by die kamervenster gestaan het en kort-kort vir die ander gesê het hulle moet sagter want hulle raas,” vertel die vrou. Anderkant die straat was hul bure besig om met vriende te kuier, onwe-tend van wat oorkant aan die gang was.
Nadat die booswigte die huis geplunder het, het hulle die vrou se bene en hande met die haardroër se koord vasgebind. Hulle het toe haar skoonsuster vanaf die televisiekamer na die slaapkamer gesleep. Kort daarna het hulle op die vlug geslaan met onder andere juwele en die twee vroue se selfo-ne en trouringe. Die was nie lank daarna nie, net voor 23:00, of die vrou kon haarself loswikkel en hulp ontbied.
“Die ergste van alles is die gedagte dat ons in my eie huis aangeval is waar ek gedink het ons is veilig,” het die vrou Dinsdag na die voorval gesê. “Ek sluit altyd al-les toe en die huis is nooit oop nie,” voeg sy by. Die huis beskik oor ‘n alarmstelsel, maar toe die vrou die afstandbeheerde paniekknoppie druk, was dié se batterye pap. In nabetragting, sê die vrou, sal dit wys wees vir ander inwoners wat oor sulke stelsels beskik om ten minste een keer per jaar die battery te vervang. Sy het ook gepoog om hulp met haar selfoon op die “speed dial” te ontbied, maar voordat sy dit kon regkry, is haar selfoon afgeneem.
Die aanval het duide-lik ‘n emosionele letsel, nie net op die vrou en haar skoonsuster, maar ook hul families gelos.
“Ek het die Here belowe ek sal nie haat nie, maar hoekom gebeur sulke dinge?” vra die vrou. Op ‘n meer positiewe noot het sy hoë lof vir die polisie gehad wat vinnig op die toneel was en tot Sondagaand kort-kort by die huis was vir ondersteuning en terug-voer. Teen druktyd was daar egter nog geen aanduiding of iemand al in verband met die voorval aangekeer is nie. Die vrou het ook haar dank uitgespreek teenoor almal wat hulle bystaan met hulp, oproepe en woorde van bemoediging.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
