ADVERTISEMENT:

 

Wyle Tewie Wessels (48).

Skielike afsterwe van Tewie kom as skok vir baie

 

News  Date: 06 February 2009

 

Tewie Wessels (48) se skielike afsterwe op 2 Februarie het vir familie en vriende landswyd as ‘n groot skok gekom.

“Hy was nie net vir ons ‘n vriend nie, hy was ook ‘n broer,” is ‘n algemene gevoel wat uitgespreek is na die heengaan van die geliefde en gerespekteerde Tewie wat deel gevorm het van ‘n bekende familie in Louis Trichardt.

Mattheus Wessels, of Mattewis of Tewie soos hy bekend was, is gebore op 24 Desember 1960, een van vier kinders en die enigste seun van oom Piet en tannie Athri Wessels van die plaas Pie¬sanghoek.

Nadat Tewie aan die Hoërskool Louis Trichardt gematrikuleer het, het hy weermagopleiding gedoen waartydens hy in ‘n ongeluk sy nek gebreek het, 29 jaar gelede. Tewie het sy lewe as kwadrupleeg aangepak met die ondersteuning en liefde van ‘n besonder hegte familie.

“Vir my is die wonderlikste van Tewie hoe hy sy toestand verwerk het en ‘n ontsettende geduld opgebou het. Hy kon vir jou ‘n ding presies verduidelik,” onthou pa Piet. Hierdie eienskappe en Tewie se vlotheid in verskeie Afrikatale het hom ook geliefd gemaak onder die plaaswerkers met wie hy baie goeie verhoudings gebou het. Hy het ‘n wildboerdery agter die berg op sy plaas Vriendschapsdal behartig en was ook baie betrokke by die familieboerdery op Piesanghoek.

Oor kleur en ouderdomsgrense heen het Tewie baie goeie vriende gemaak.

“Hy was ook ons beste vriend,” sê sy sussies. Sy susterskinders het hom oom Broer of oom Boeta genoem. Vir hierdie jonger geslag en ook vir sy kinders wat hy grootgemaak het, was hy altyd ‘n raadgewer, steunpilaar en beste vriend. Hy was altyd positief en het net die beste in elkeen raakgesien.

Tewie was baie betrokke by die kerk, die gemeenskap, die Bosveld Jagtersvereniging en die Wildtelersvereniging. Sy wydbelesenheid en uitsonderlike algemene kennis het hom ‘n gesogte raadgewer en vriend gemaak. Hy was ook altyd gewillig om ander te help, ten spyte van sy eie fisiese beperkinge. Tewie het dikwels mannekampe op sy wildsplaas gehou. Hy het voluit geleef.

“Hy was ‘n baie spesiale mens. Ek glo die Here het hom spesiaal afgesonder vir Sy Koninkrykswerk,” sê ma Athri.

Tewie se predikant, ds. Phillip Venter, sê dat as hy vir ‘n mens wat nog nooit van die Here gehoor het nie, moes wys hoe lyk iemand wat soos Jesus optree, dan sou hy hom na Tewie geneem het.

“Sy dood laat ‘n groot leemte in ons almal se lewens, maar ons vind vertroosting daarin dat hy nou sonder enige gebreke of pyn by Jesus in die hemel is,” sê ‘n goeie vriend, Dries Bri-ers.

Baie dankbaar vir sy verrykende en sinvolle lewe, is Mattewis se pa en ma, kinders Ydean (21) en Ahlode (20), suster Zanette en susters en swaers, Marie en Stefan Wilson met Athri (19) en Susan (15), Elmien en Bertus Guillaume met Tharien (16), Gysbert (12) en Pieter (10).

‘n Dankdiens vir Tewie se lewe word op Vrydag, 6 Februarie om 14:00 in die NG Kerk Soutpansberg gehou.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines