ADVERTISEMENT:

 

Die nuwe bestuur van die Soutpansberg Belastingebetalersvereniging is verlede Woensdag verkies. Hier verskyn ‘n paar van die lede wat verkies is. Hulle is, van links, Jean du Plessis, Frans Prinsloo, Herman Smith, Coleen Smit en Bertus Petzer.

Nuwe bestuur wil die bal vinnig aan die rol sit

 

News  Date: 06 February 2009

 

Op ‘n vergadering van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) verlede week is ‘n nuwe bestuur verkies wat voortaan aan stuur van sake gaan staan. Heelwat jong, nuwe bloed maak nou deel uit van die topstruktuur en die manne en vroue is reg vir aksie.

Ná die Makhado Munisipaliteit in gebreke gebly het om planne vir die aanspreek van die swak diens-lewering oor die afgelope aantal jare op die tafel te lê, het die SBBV aangedui dat die organisasie van voorneme is om nou ernstig werk te maak van die probleme waar-mee die dorp nou al vir jare mee te kampe het.

Hier teen die einde van verlede jaar het die munisipaliteit vir ‘n wyle met groot ywer aan die werk gespring om die probleme te begin aanspreek. Tydens die besoek van die Minister van Waterwese en Bosbou, Me. Lindiwe Hendricks, aan die begin van Desember, is daar ‘n ultimatum aan die Stadsraad oorhandig om binne 30 dae die situasie op te los of korrektiewe maatreëls in plek te stel om verskeie van die sloerende probleme, soos die vervalle strate, die ontoereikende suiweringsaanleg en die watervoorsieningsituasie, aan te spreek. Dié spertyd het op 27 Desember verlede jaar verstryk.

Meer as ‘n maand later lyk die situasie in Louis Trichardt nog net so sleg. Verder het die deurdringende (andersins welkome) reën van die afgelope weke net bygedra tot die verslegtende toestand van die paaie en strate in die dorp, om nie eers van die stormwaterstelsel te praat nie. Soos ‘n onthutste inwoner tereg opgemerk het, ry net ‘n dronk mens deesdae reguit met ‘n straat af; die res lyk of hulle besig is met ‘n 4X4-wedren.

Toe die SBBV die dispuut met die Stadsraad tydelik opgeskort het, is daar ‘n onderneming gemaak deur die Raad om met werkbare, koste-effektiewe planne vorendag te kom om die toestand aan te spreek. Volgens die nuwe voor-sitter van die SBBV, mnr. Frans Prinsloo, beoog die vereniging om binne die volgende week of wat die bal aan die rol te kry. Hulle is reeds besig met beplanningsvergaderings en het net gewag vir die pasafgelope vergadering met die lede van die SBBV om duidelikheid oor ‘n paar sake te kry.

Die SBBV het ten doel om op ‘n deursigtige, nie-politiese wyse ‘n diens te lewer aan die hele gemeenskap ten einde die gebrekkige dienslewering van die huidige stadsraad te ondervang en verbeter.

“Ons doel is nie om die Stadsraad te vervang nie. Almal van ons het ons eie werk en ons het te veel om te doen om nog die Stadsraad se werk ook te doen. Ons is egter deur die huidige situasie genoop om sake in ons eie hande te neem, aangesien mooipraat en onder-handeling ons niks in die sak bring nie. Dit kan nie langer so voortgaan nie,” het Prinsloo Woensdagoggend gesê.

Die volledige nuwe bestuur is Frans Prinsloo (voorsitter), Jean du Plessis (ondervoorsitter), Marie Helm (addisionele lid), Herman Smith (skakelbeampte), Inga Gilfillan (addisionele lid), Stephen Hoffman (TLU-verteenwoordiger), Solly Maanda (Downtown Citizens Forum-verteenwoordiger), Dennis Gilbert (wyklid), Magdalene Liebenberg (wykslid), Frans Malan (tesourier), Bertus Petzer (sekretaris) en Neil Duvenhage (regsaangeleenthede). Coleen Smit sal optree as uitvoerende sekretaresse.

 

Written by

Nic Hoffmann

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines