

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 February 2009
“Die munisipaliteit se hande is afgekap,” is die slotsom waartoe baie inwoners kom wat deur rioolprobleme geteister word.
Inwoners ondervind al hoe meer dat riool oral uitsyfer.
In een geval, waar ‘n huis deur oorsese mense gehuur word, is die eienaar van die huis ‘n ultimatum gegee om die rioolprobleem op te los of die huur word opgesê. Riool het uitgestoot by die bediende toilet en die dreinpype. Die eienaar, mnr. Emil Simon, het die punt bereik waar hy regstappe oorweeg het teen die munisipaliteit.
Simon het Maandag die heeldag by die mu-nisipaliteit spandeer en ondervind dat hy goed behandel is.
“Die personeel van die rioolafdeling was baie behulpsaam, maar het geen oplossing vir die rioolprobleem nie. Die probleem is voor die deur van die persone gelê wat die bouregulasies moet toepas,” het Simon Dinsdag gesê. Die amptenare het aan hom verduidelik dat die nuwe bouers geute in die afvoerpype sit, sodat die reënwater binne in die rioolsisteem vloei en dat die sisteem nie al die water kan hanteer nie. Die eienaar het sy eie planne gemaak en ‘n tydelike oplossing vir die probleem by die huis wat hy verhuur, gekry.
Nog ‘n geval, waar riool by die stormwater dreine uitborrel, is aangemeld deur ‘n besigheid in Groblerstraat. Die bestuurder, mnr. Hannes Barnes, het Maandag gesê dat die riool by die drein oorvloei na ‘n lekker reënbui.
“Ek is al ses jaar hier en dis die eerste keer dat dit gebeur. Die stormwater en die riool behoort glad nie gekonnekteer te wees nie,” het Barnes gesê. Hy het self die gemors op die sypaadjie opgeruim, aangesien dit ‘n gesondheidsrisiko inhou. Die besigheid het ‘n brief aan die munisipaliteit gerig waarin op die choleragevaar gewys word en inspeksie aangevra word. Daar is nog geen reaksie ontvang op die brief wat op 21 Januarie per hand afgelewer is nie.
Intussen verwag belastingbetalers dat die Makhado Munisipaliteit antwoorde moet kan verskaf en dienste moet kan lewer. Die hele riool- en watersisteem is op aanvraag van die munisipale bestuurder, me. Faith Muthambi, alreeds in 2007 onder-soek deur die ingenieurs van Kwezi V3 en ‘n verslag is uitgebring. In November verlede jaar het dieselfde ingenieurs ‘n voorstel vir die on-middellike werk aan die rioolaanleg en sisteem verskaf. Daarin staan dat die rioolaanleg nie volgens kapasiteit funksioneer nie en in ‘n swak toestand verkeer, met elektriese en meganiese toerusting wat nie werk nie of herstel moet word. Die saak moet as ‘n noodsituasie hanteer word.
KweziV3 ingenieurs het ‘n berekening gemaak van die daaglikse verwagte riool uitvloei. In Louis Trichardt is dit 8176.3 kiloliter per dag, in Eltivillas (saam met die tronk) is dit 1007.3kl en in Tshikota 3237.5kl, wat ‘n totaal van 12421kl lewer. Daarvan gebruik die tronk 400kl. ‘n Gewilde verskoning dat die tronk vir al die rioolprobleme verantwoordelik is, hou dus waarskynlik nie water nie. Teen 2018, bereken teen ‘n groeikoers van 5% per jaar vir nuwe ontwikkelings, word daar verwag dat die totale riool feitlik sal ver-dubbel tot 23 349kl per dag.
Dat die riool met die grondwater meng is herhaaldelik deur die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging uitgewys. In die SBBV se dispuutverklaring word genoem dat gekontamineerde grondwater na reservoirs gepomp word vir menslike gebruik. Die munisipale wet, Wet 27 van 1998, word aangehaal waar munisipaliteite dienste op ‘n volhoubare manier moet lewer. “Afgekapte hande” en skouers optrek oor “foutiewe geute” is dus nie die antwoord vir inwoners se rioolprobleme nie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
