ADVERTISEMENT:

 

TLU SA bly by standpunt oor nuwe wapenwet

 

News  Date: 06 February 2009

 

Met die afsnydatum vir die hernuwings van vuurwapenlisensies ingevolge die nuwe vuurwapenwet wat vinnig nader kom, het mnr. Gideon Meiring van die TLU SA vuurwapeneienaars wat nog nie hernu het nie weens beginselbesware teen die wet versoek om by hul standpunt te bly.

Die wet op vuurwapenbeheer (Wet 60 van 2000) het op 1 Julie 2004 in werking getree met vuurwapeneienaars wat tot 31 Maart vanjaar tyd het om hul bestaande vuurwapenlisensies te hernu. Lisensies wat nie ingevolge die nuwe wet hernu word nie, sal geldig bly tot 30 Junie vanjaar. Vuurwapeneienaars wat nie hernu het nie, sal voor laasgenoemde datum wettiglik van hul vuurwapens ontslae moet raak, of hulself blootstel aan vervolging.

Volgens Meiring is dit opmerklik hoe die een individu en organisasie na die ander boedel oor-gee, aangesien die nuwe wapenwet die potensiaal het om van bykans twee miljoen tans-wetsgehoorsame landsburgers kriminele te maak.

“Selfs die kampvegters van gister raak nou openlik propagete vir genoemde wet,” sê Meiring. Tog meen hy dat, sou ‘n mens realiteit en beginsel praat, byna niks verander om deelname te regverdig nie. Om sy argument te staaf, verwys hy na die huidige misdaadsituasie in die land en sê dit hou steeds ‘n werklike en wesentlike bedreiging vir landsburgers in.

“Die veiligheidsmagte se vermoë is gebrekkig en ‘n klimaat is geskep waar die krimineel en boosdoener toenemend die voordeel trek uit huiwerige wetstoepassing en onsekerheid by wetsgehoorsame burgers wat die spreekwoord “hy wat twyfel, is verlore,” vergestalt.

“Wat die wetgewing self betref, is dit onbillik en onversoenbaar met die reg op privaatbesit. Voorts is dit verbruikersonvriendelik en grens aan burokratiese teistering, om van die effek op ‘n eens bloeiende bedryf nie eers te praat nie,” sê Meiring.

Meiring sê dat hy die afgelope jare deel was van groeperings wat die gewraakte wet op elke moontlike terrein en wyse beveg het.

“Daar is geskryf, vergader en gepraat, selfs op presidensiële vlak, sonder noemenswaardige sukses. Die vraag is, wat nou gemaak? Is dit tyd vir handdoek ingooi of is groter druk die antwoord? Sou ek beginsel praat, het ons geen ander uitweg as om die regering se erns met genoemde wet te toets nie,” sê Meiring.

Vir die diegene wat reeds weens eie beweegredes in die proses betrokke geraak het, sê Meiring: “Hou u asseblief hier uit sodat die honderde duisende wat steeds buite die proses is, hulle eie heil kan uitwerk en dalk ‘n beter môre vir almal skep.”

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines