ADVERTISEMENT:

 

Oom Joggie Pieterse staan hier met die bykans twee-en-‘n-half meter lange swart mamba wat Maandag vir groot drama by Herfsakker op Louis Trichardt gesorg het. Links kniel oom Eric Nel by Mollie, tannie Meisie Müller se liefling foksterriër, wat deur die slang doodgepik is.

Mamba maak amok

 

News  Date: 13 February 2009

 

‘n Swart mamba van digby twee-en-‘n-half meter het Maandagmiddag vir groot konsternasie by Herfsakker op Louis Trichardt gesorg, met tragiese gevolge vir ‘n foksterriër teef wat bloot haar ounooi wou beskerm het.

Die hele gedoente het die inwoners van hierdie behuisingsgebied vir van die dorp se senior burgers erg in rep en roer gehad.

Dit was so net na 14:00 toe tannie Meisie Müller van Herfsakker nr. 7 ‘n draai gaan maak het by haar plantjies op haar stoep. Skielik het sy ‘n swart gevaarte gewaar. Dit was die mamba wat probeer wegseil het, maar dit het nie Mollie, tannie Meisie se liefling foksterriër, se skerp ogies ontglip nie. En toe is dit Mollie en die slang, met Mollie wat verwoed probeer het om die slang te dood.

Met dié het tannie Meisie angswekkend gegil. Haar bure sou na die tyd nog met skok vertel van die bloedstollende gil. Die mamba het haastig gemaak vir tannie Meisie sy buurvrou, tannie Hettie Pam, se wasbakafvoerpyp. Blitsig het die slang in die afvoerpyp opgeseil, maar nie voordat dit eers vir Mollie ‘n noodlottige nekslag toegedien het nie.

Van oral het bure nader gestorm, met oom Eric Nel en oom Joggie Pieterse aan die voortou. Hulle het die slang sommer so aan die stert gegryp, die bietjie wat nog uitgesteek het uit die afvoerpyp. Daar is ge-pluk en getrek, maar slang se kind wou niks weet nie. Selfs nie eers toe daar is stuk van sy stert afgebreek het, wou die mamba sy skuiling prysgee nie.

“Ek het toe vir Hettie gesê sy moet haar warmwaterkraan gaan opdraai,” vertel oom Eric.

Die warmwater het die ding gedoen en dit was nie lank nie, of die slang het die veiligheid van sy skuiling opgegee. Nodeloos om te sê, dit het ook die einde van sy lewe beteken, want buite het ooms Eric en Joggie gewag. Die slang is net daar doodgeslaan. Tannie Hettie sou later opmerk dat haar wasbakafvoerpyp vir die eerste keer in ‘n lang tyd nie geblokkeer is nie. Laat mens wonder ...

Die hartseer is egter dat Mollie nie eers lank genoeg gelewe het om die einde van haar aan-valler te sien nie. Sy is binne minute dood.

Met die koerant se aankoms was tannie Meisie nie daar nie. Vir haar was die skok en trauma van wat sy gesien het en die dood van haar pragtige Mollie net te veel. Sy is dokter toe geneem vir behandeling.

“Julle moet vir die Stadsraad vra waarom kom sny hulle nie die gras hier nie! Dit is hoekom die slange hier is. Dit kon netsowel een van ons gewees het wat die slang gepik het!” het tannie Lettie Beaton erg ontsteld opgemerk. Haar sentiment is ook deur haar mede-inwoners gedeel. Orals staan die gras bykans kniehoogte met van die tuine wat so oorgroei is dat dit ideale skuilplek bied vir slange. Vir die mamba wat vir Mollie doodgepik het, was dit egter die einde van die paadjie. Daar is sommer net daar vuur gepak, ‘n kan petrol gaan haal en die slang in vlamme opgestuur.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines