

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 February 2009
Belastingsbetalers van Louis Trichardt volg nou ander dorpe in Suid-Afrika se voorbeeld en gaan voort om hul eiendomsbelasting en munisipale heffings terug te hou deur die gelde in ‘n trustrekening in te betaal.
Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV), wat die belastingbetalers verteenwoordig wat woonagtig is in Louis Trichardt en omgewing, het op 4 Januarie ‘n openbare vergadering gehou, waar daar oorweldigend gestem is om uit noodweer belasting te weerhou om die Makhado- en Vhembe Munisipaliteite te dwing om aanvaarbare dienste te lewer. Hierdie gelde sal vanaf einde Februarie in ‘n trustrekening, onder toesig en beheer van ‘n prokureursfirma, inbetaal word en sodra genoeg fondse beskikbaar is, sal die belastingbetalers self verantwoordelikheid neem om Louis Trichardt en die omgewing te onderhou.
Louis Trichardt se probleme is identies aan dit wat in talle ander dorpe in die land ondervind word, naamlik onder meer swak finansiële bestuur en rekeningstelsels, omgewingsbesoedeling wat deur ‘n swak-onderhoude rioolstelsel veroorsaak word, probleme met die voorsiening van drinkwater, asook die haglike toestand van die dorp se strate.
Die rioolplaas funksioneer nie, omdat die toevoer dubbel soveel is as wat die stelsel kan hanteer. Riool word in die veld gepomp voordat dit die suiweringsaanleg kan bereik, en dit wat nie deur die rioolplaas gekanaliseer kan word nie, word toegelaat om in die Dorpsrivier af te loop. Dit is nou ‘n standhoudende riool rivier. ‘n Hele aantal boorgate is in die vloedvlakte en op die walle van die riviertjie of damme in die lopie, wat gebruik word vir drinkwater vir Louis Trichardt en Tshikota. Uiteindelik word die water deur boere gebruik vir besproeiing, en met die huidige goeie reëns eindig dit in die nabygeleë Spiesdam, waar duisende mense woon, visvang en swem.
Verder is die swak bestuur van die dorp se watersuiweringswerke by die Albasinidam al vir etlike jare gereeld onder die aandag gebring van die Makhado en Vhembe Munisipaliteit, maar weinig aandag is daaraan gegee. Die SBBV beweer dat geen bewyse dat waterkwaliteitstoetse by die watersuiweringswerke of die rioolplaas gedoen word, nog aan hulle voorgelê kon word nie, alhoewel die Makhado- en Vhembe Munisipaliteit beweer dat die Departement van Waterwese daagliks, weekliks en maandeliks waterkwaliteitstoetse doen. Die SBBV is intussen verhinder om die suiweringswerke te besoek en die hekke, wat jare lank oop gehang het, word nou skielik gesluit.
‘n Groot beswaar van inwoners is die eensydige besluit van die Makhado Munisipaliteit rondom die toepassing van die verhoogde eiendomsbelasting, sonder dat enige wettige en/of behoorlike konsultasieprosesse met die belastingbetalers gevolg is. Hierdie tekortkoming is verskeie kere deur die munisipale bestuurder, me. Faith Munthabi, op openbare vergaderings erken, maar nogtans gaan die munisipaliteit voort om die nuwe eiendomsbelastings te hef. Vergaderings wat sou plaasvind om die probleme aan te spreek, is deur die munisipaliteit geïgnoreer. Wetlike vereistes dat ‘n impakstudie gedoen moes word voor die persentasie belasting bepaal word, is ook nie nagekom nie.
Die laaste strooi vir die SBBV was egter die eensydige opgradering van die munisipaliteit van Kategorie 7 na Kategorie 9, sonder dat daar werklik vir so ‘n stap beplan of begroot is. Weereens lyk die munisipaliteit se aangepaste begroting anders as die goedgekeurde een en fondse wat vir aspekte soos instandhouding begroot is, word nou gekanaliseer na ander “meer noodsaaklike” aspekte, soos salarisse wat verhoog het. Dié stap is geneem in weerwil daarvan dat dit deur SALGA (South African Local Government Association) afgekeur is.

ADVERTISEMENT:
