ADVERTISEMENT:

 

TLU SA versoek lede om betyds wapenlisensies te hernu

 

News  Date: 13 February 2009

 

Die TLU SA het hierdie week hul lede wat nog nie aansoek gedoen het om hernuwing van hul bestaande vuurwapenlisensies ingevolge die nuwe wapenwet nie, versoek om dit te doen.

Dié aankondiging volg na aanleiding van ‘n artikel in verlede week se uitgawe van die Zoutpansberger waarin mnr. Gideon Meiring, ‘n lid van die TLU SA, vuurwapeneienaars wat weens besware teen die nuwe wapenwet nog nie aansoek gedoen het om hernuwing nie, versoek het om by hul standpunt te bly.

Die TLU SA het na aanleiding van dié artikel ‘n amptelike verklaring uitgereik waarin hulle sê dat hulle as ‘n verantwoordelike lede-organisasie die plig het om te verseker dat leiding sodanig gegee word, dat nie die organisasie of sy lede krimineel aanspreeklik en vervolgbaar gehou kan word nie. Derhalwe het die dagbestuur van die TLU SA, op aanbeveling van die Veiligheidskomitee, vroeër die maand besluit om lede wat nog nie aansoek gedoen het om hernuwing nie, te adviseer om dit voor 31 Maart ingevolge die nuwe wet te doen. Die besluit stel dit ook duidelik dat diegene wat nie die advies volg nie, dit op eie risiko doen.

Sedert die huidige wet (Wet 60 van 2000) in die ontwikkelingsfase was, het TLU SA bepaalde aksies geneem om dit vir lede moontlik te maak om hul gelisensieerde vuurwapens te behou. Hulle het onder meer ‘n skietvereniging gestig sodat lede in afgeleë gebiede ‘n vereniging kon hê waarby hulle kon aansluit. Daar is ook ‘n groot aantal assessors opgelei en geakkrediteer, sodat vuurwapeneienaars in die platteland deur toepaslik-gekwalifiseerde lede geassesseer kon word.

“Lede is geadviseer om hul vaardigheidsertifikate te bekom en om hul aansoekvorms vir herlisensiëring van vuurwapens saam met toepaslike motiverings voor te berei. Dit was noodsaaklik dat lede die intensie moes toon om aan die vereistes van die wet te voldoen,” lui TLU SA se verklaring.

Mondelinge en skriftelike voorleggings is ook gemaak om TLU SA se sieninge en standpunte onder die aandag van die owerheid gebring.

“TLU SA was ‘n leidende party in die stigting van die Verenigde Vuurwapenforum, waarin alle nasionale vuurwapenverwante organisasies verteenwoordig was. TLU SA se geformuleerde standpunt jeens die Wet op die Beheer van Vuurwapens is deur die forum onderskryf,” sê die TLU SA.

Herhaalde pogings is ook van stapel gestuur om met senior polisie-offisiere in gesprek te tree. Ten minste twee gesprekke op senior adjunk-kommissarisvlak het gevolg. Herhaalde formele pogings is ook van stapel gestuur om met die toenmalige, sowel as die huidige Minister van Veiligheid en Sekuriteit in gesprek te tree. Hierdie gesprekke het egter nie gerealiseer nie. ‘n Memorandum is verder formeel aan die voormalige nasionale president, mnr. Thabo Mbeki, op 20 Mei 2008 oorhandig insake die TLU SA se standpunt oor die nuwe wet en etlike gesprekke met die SAPD het daarna gevolg en is steeds in proses.

Volgens die TLU SA beklemtoon die voorafgaande dat die TLU SA vroegtydig maatreëls ge-implementeer het om te verseker dat sy lede hul vuurwapens kan behou en dat dit van meet af die TLU SA se intensie was om te verseker dat sy lede nie krimineel vervolg- en strafbaar sal wees nie.

“Gegewe die verloop van tyd, asook die politieke verwikkelinge sowel as die verkiesing wat in die vooruitsig is, word aanvaar dat daar onvoldoende tyd voor 31 Maart 2009, wanneer geen verdere hernuwingsaansoeke aanvaar sal word nie, oor is om ’n wetswysiging suksesvol te inisieer,” sê die TLU SA.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines