

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 February 2009
Gespesialiseerde mediese dienste op Louis Trichardt het die afgelope paar maande so geweldig uitgebrei dat Jan Publiek nou nie noodwendig meer vir elke besoek aan ‘n spesialis die tolpaaie hoef aan te durf nie.
“Daar is twee redes waarom ons spesialiste hier wil hê. Ons wil ‘n goeie diens lewer aan die pasiënte en ons wil die teater beter benut. Die reaksie wat ons by die pasiënte kry, is als net positief,” sê dr Anton Stroebel, een van die besturende direkteure van die Zoutpansberg Privaat Hospitaal.
Vir diegene met ‘n katarak op die oog of ander oogprobleme, is daar goeie nuus. Twee oogartse van Polokwane, dr. Anri Weyer en dr. Shaun Thompson, opereer by die Zoutpansberg Privaathospitaal. Die hospitaal beskik oor ‘n ten volle toegeruste spreekkamer vir dié oogspesialiste. Sedert Januarie vanjaar besoek hierdie oogartse Louis Trichardt. Pasiënte wat die oogartse of ander spesialiste wil besoek, doen hul besprekings deur direk die spesialiste in Polokwane te skakel. Buiten die oogartse se spreekkamer, is daar ook ‘n algemene spreekkamer tot beskikking van ander spesialiste.
Die twee ortopediese chirurge wat die privaathospitaal besoek, is dr. Diekie de Klerk en dr. Kganakga, beide van Polokwane. Dr. De Klerk het pas begin om een maal per maand pasiënte te sien en, waar nodig, te opereer. Pasiënte kan selfs hul opvolgbesoeke by die Zoutpansberg Privaat Hospitaal skeduleer al is hulle in Polokwane geopereer. Dr Kganakga besoek en opereer al in die dorp sedert Julie verlede jaar. ‘n Algemene chirurg, Dr. Ryndine, besoek ook die dorp. Die dienste van ‘n psigiater is reeds op aanvraag beskikbaar.
Die nuwe gerief om spesialiste te hê wat in die privaathospitaal pasiënte sien en opereer, word algaande verder uitgebrei en meer effektief en gebruikersvriendelik gemaak. Daar word ook reeds beplan vir nog meer uitstekende gespesialiseerde toerus-ting vir die teater.
Die dorp se ginekoloog en verloskundige, dr. Patrick Tigere, opereer ook in die teater by die privaathospitaal. By dr. Tigere se praktyk in Groblerstraat is daar ook spesialiste wat gereeld die dorp besoek. Sedert Oktober laasjaar besoek ‘n internis, dr. Chitate, die praktyk een maal per week. ‘n Pediater, dr. Rajan, besoek die praktyk elke Vrydagmiddag. Spesialiste besoek ook die Songozwi Mediese sentrum. Een van hulle is dr. Netshidzibhane wat elke laaste Saterdag van die maand kom. Hy is ‘n ginekoloog wat fokus op onvrugbaarheid. Dr. Tigere sê dat dit wonderlik is dat daar al soveel spesialiste na Louis Trichardt kom, want ‘n siek persoon reis nie altyd so maklik nie.
Dr. Stroebel noem ook die voordeel dat ‘n pasiënt naby sy of haar ondersteuninsgroep is wanneer ‘n operasie plaaslik gedoen kan word.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
