

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 April 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Die visevoorsitter van die Soutpansberg Distriks Landbou-unie, mnr. Gideon Meiring, het die afgelope week meer lig gewerp op die omstandighede wat gely het tot die gemeenskap se protesoptrede van 1 April.
Volgens Meiring het voortslepende ongelukkigheid rondom die owerheid se hantering van die tolpad-kwessie op die N1 tussen Louis Trichardt en Musina direk aanleiding gegee tot die aksie. Hy sê dat hierdie aksie vooraf bedink, beplan en uiteindelik gekoördineer is deur onder andere die Soutpansberg Sakekamer, die Tshipise Concern Group, die Taxivereniging, die Soutpansberg Distrik Landbou-unie, individue en selfs politieke partye. Meiring het verskoning aangebied vir diegene wat deur die aksie ontwrig is. Hy sê egter dat dit beter is om betrokke te raak, as om van die kantlyn af te kla sonder enige impak.
Agtergrond
Meiring sê die dat die euforie rondom die sonsverduistering van Desember 2001 aanvanklik die kontroversie rondom die kanalisering van swaar voertuie oor die Soutpansberg tot gevolg gehad het.
"Ek het opdrag ontvang van mnr. Dries Joubert (TLU SA) om in te gaan op die oprigting van groot padtekens op die Waterpoort/Vivopad waarop swaar vragmotors gedwing word om slegs die Soutpansberg via die N1, toe reeds onder konstruksie, aan te durf. U onthou nog die wagtye op 'n enkelbaan van tot 20 minute op 'n keer – waar tot 40 voertuie kunsmatig opgehoop word."
Owerhede is gewaarsku
Reeds toe, sê Meiring, is dit duidelik aan die owerhede en die Nasionale Pad Agentskap gestel dat talle mense hulleself letterlik in 'n doodsakker sal bevind in geval van 'n wegholvragmotor.
Meiring sê dat honderde oproepe, skrywes en frustrerende vergaderings met die regering en die Nasionale Pad Agentskap oor die kwessie min of geen resultate tot gevolg gehad het.
"Intussen het mense doodgegaan, is talle beseer en was die pad baie kere ure lank gesluit as gevolg van ongelukke en oponthoude – tot groot frustrasie van die breë publiek."
LUR se "mooi woorde" beteken niks
Meiring sê dat geldmaak duidelik die dryfveer was vir die oprigting van die nuutste tolhek by Bokmakierie, met min of geen konsiderasie vir padveiligheid en die veiligheid van die streek se inwoners. Dit is te verstane dat die dood van die twee Du Preez-kinders groot hartseer, diepe teleurstelling en selfs rou emosie tot gevolg gehad het. Hul dood het 'n hoë-vlak besoek van die provinsiale LUR van Vervoer, dr. T. S. Farisani, tot gevolg gehad, maar volgens Meiring het Farisani se besoek niks vir hom beteken nie.
"Ja, selfs die 'mooi woorde' van dr. Farisani was, wat my betref, leë politieke clichés en 'n poging om 'n swak regering te laat beter lyk. Dr. Farisani is 'n yslike deel van die groter probleem, vra maar vir die wat weet!" 'n Desperate poging
Opsommend, sê Meiring, was 1 April se aksies en optrede 'n desperate poging om 'n traak-my-nieagtige owerheid tot optrede te probeer ruk.
"Hierdie gemeenskap verdien werklikwaar baie beter!"
Wat was die doel?
Meiring sê dat die optrede van 1 April ten doel gehad het om dringend die aandag van verantwoordelike instansies op alle vlakke te vestig op 'n onhoudbare situasie. Tweedens het dit ten doel gehad om vir Suid Afrika te wys hoe min die owerheid werklik omgee vir sy mense. Derdens het dit ten doel gehad om 'n dringende afspraak te kry met die verantwoordelike instellings. Om bogenoemde moontlik te maak, is vergaderings gehou en daar is die aand voor die aksie tot laat tyd spandeer saam met die outoriteite om toestemming te bekom.
Polisie het meer gepla as die reën
Meiring het ook 'n paar klappe uitgedeel na sommige polisie-offisiere op die toneel.
"Ja, die reën het gepla, maar die polisie het baie meer gepla."
Meiring het heelwat opmerkings gemaak rakende die polisie se optrede die betrokke dag.
"Die baie voertuie, nog meer, tot-die-tande-toe gewapende polisiemanne (ek huiwer om hulle dit te noem) en selfs 'n helikopter in die lug met duidelik geïllustreer – hierdie mense kom vir 'n geveg. Wat 'n belediging vir 'n eerbare gemeenskap met 'n eerbare saak!
"Bogenoemde ontplooiing was 'n kristalhelder bewys van 'n gebrek aan 'n betroubare inligtingsvermoë en duidelike aanduidings van krisisbestuur en reaksie op ongegronde gerugte."
Van Wyk se optrede 'n verleentheid
Meiring was veral uitgesproke oor die optrede van die polisie se adjunk provinsiale kommissaris, Charles van Wyk.
"My waarneming is dat die SAPD onder aanvoering van adjunk-komm. Van Wyk, ywerig bygestaan deur 'n aantal ewe (wat my betref) onbeholpe adjudante, gelei het tot die lagwekkende arrestasies. Die geagte kommissaris se optrede was 'n verleentheid vir die wat hy veronderstel is om te verpersoonlik. Die enigste voertuig wat werklik die pad geblokkeer het, het aan die genoemde kommissaris behoort!"
Meiring sê komm. Van Wyk se houding was volgens hom middelmatig en nie op die vlak van wat 'n mens van 'n kommissaris sou verwag nie.
"Hierdie was nie 'n eerste ontmoeting nie en verskeie sake wat by vorige ontmoetings geopper is, is steeds uitstaande. Myns insiens is dit die profiel van 'n persoon wat in eie belang optree, sy politieke base ten alle koste terwille is en in die proses teen die gemeenskap speel."
Arrestasies geen April-grap
Wat die arrestasie van verskeie protesgangers betref, het Meiring ook heelwat te sê gehad.
"Die tyd sal bewys dat die arrestasies totaal ondeurdag en uittartend was en niks anders as oordrewe magsbeheptheid was nie. Dit klink byna soos 'n April-grap wanneer 'n klaer hom ewe skielik in hegtenis bevind – nadat hy juis 'n f***** barbaar genoem en so behandel is!"
Dankie
Meiring het sy dank uitgespreek teenoor almal wat die aksie help organiseer en ondersteun het, insluitend die plaaslike gemeenskap, sakelui, lede van die sakekamer, nooddienste en boere uit die kontrei. Hy het ook lede van die polisie, onder leiding van Direkteur Ramaligela en supt. Godfrey Nephawe, wat noord van die berg diens gedoen het. bedank vir hul professionele optrede.
Meiring het ironies genoeg ook sy dank uitgespreek teenoor komm. Van Wyk.
"Dankie aan komm. Van Wyk. U houding en optrede - natuurlik onbeholpe – het aan die groter saak heelwat meer mediadekking verleen. Wees verseker dat, sou die owerheid nie reageer en optree om 'n dringende probleem op te los nie, jy gereed sal moet wees om baie meer mense onregmatig te arresteer – soos dit reeds gewoonte geword het."
Vir diegene wat nie die aksie ondersteun het, het Meiring soos volg gereageer: Aan u wat nie deel was nie, dalk was u bang, versigtig, apaties, dankie dat u volgende keer aan 'n goeie saak sal deel hê." Hy het afgesluit deur te sê: "Mag ons ter nagedagtenis van die baie wat die afgelope tyd met hulle lewens betaal het, aanhou totdat ons die genoegdoening van sukses ervaar het."

ADVERTISEMENT:
