

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 February 2009
Daar is ‘n gesegde wat lui: ‘n Nuwe besem vee altyd skoon. Tans lyk dit of die nuwe burgemeester van die Makhado Munisipaliteit, rdl. Mavhungu Luruli, die betekenis van hierdie gesegde gestand doen met baie planne op die tafel om die munisipaliteit se swak diensleweringsrekord aan te spreek.
Luruli het in Desember verlede jaar beheer oorgeneem as politieke hoof en Eerste Burger van die Makhado Munisipaliteit, nadat haar voorganger, rdl. Glory Mashaba, vanweë swak dienslewering in die middel van haar ampstermyn deur die ANC uit haar pos onthef en herontplooi is. Die voortgesette swak dienslewering het ‘n paar maande vantevore, in Augustus, daartoe gelei dat die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) amptelik ‘n dispuut met die munisipaliteit verklaar het met die oog op belastingweerhouding.
Met bogenoemde as agtergrond het Luruli in moeilike omstandighede beheer oorgeneem, maar sy kla nie.
“Ek is nie ‘n klaerige persoon nie,” het Luruli Maandag tydens ‘n onderhoud met die Zoutpansberger gesê. Volgens haar was die eerste paar weke op kantoor besig, maar sy het erger verwag. Vandat sy oorgeneem het, sê sy, lui haar telefoon onophoudelik met inwoners vanoor alle kleurgrense wat haar skakel met klagtes oor dienslewering. Tog, sê sy, pla dit haar nie, aangesien dit ‘n aanduiding is dat mense haar as toeganklik genoeg beskou om mee te praat. Sy sê sy waardeer ook die feit dat mense, so saam met die klagte, ook konstruktiewe advies gee.
Luruli het gebrekkige kommunikasie tussen die munisipaliteit en inwoners uitgesonder as die grootste oorsaak van ongelukkigheid teenoor die munisipaliteit. Sy is van voorneme om toe te sien dat die munisipaliteit baie meer proaktief optree ten opsigte van onder meer water- en elektrisiteitsonderbre-kings.
“My visie is regtig om seker te maak die Makhado Munisipaliteit kan volhoubare dienslewering verseker,” het Luruli gesê.
Maar hoe is die munisipaliteit se Eerste Burger van plan om hierdie volhoubare dienslewering te verseker?
Twee weke nadat Luruli beheer oorgeneem het, het sy ‘n strategiese beplanningsvergadering belê. Tydens hierdie vergadering is areas van swak dienslewering geïdentifiseer. Dit het onder meer ingesluit tegniese kapasiteit, projekbestuur, beplanning en finansiële bestuur. Die probleem areas is geprioritiseer en sal by wyse van ‘n omkeer-strategie aangespreek word. Die eerste wat aandag sal geniet is die munisipaliteit se teg-niese kapasiteit.
Die omkeer-strategie behels onder meer die streng toepassing van tydskedules vir projekte. In die verlede het die gebrekkige toepassing van voorafbepaalde tydskedules daartoe gelei dat baie projekte gesloer het of glad nie eers voltooi is nie.
“Die toepassing van tydskedules sal ons verbintenis tot dienslewering bevestig,” het Luruli gesê. As voorbeeld noem sy die herstel van die dorp se strate en slaggate. ‘n Kontrakteur is reeds op 8 Januarie aangestel om met herstelwerk te begin. Die kontrakteur se vordering word streng volgens die projek se tydskedule, waarvan sy ‘n afskrif aan die Zoutpansberger gewys het, gemonitor. Sigbare tekens van die herstel van strate, slaggate en selfs die dorp se beskadigde stormwaterstelsel is reeds die afgelope paar weke sigbaar.
As deel van die omkeer-strategie sal daar ook weer elke maand met die direkteure van die munisipaliteit se onderskeie departemente vergader word en nie elke vier maande soos in die verlede nie. Tydens hierdie vergaderings sal die direkteur moet terugvoer gee ten opsigte van bestuur, projekte en die besteding van hul departementele begrotings. Maandelikse vergaderings sal, volgens Luruli, dit makliker maak om vroegtydig probleme te identifiseer.
Meer personeel sal ook ingevolge die omkeer-strategie aangestel word om die munisipaliteit se kapasiteit uit te brei. In die Zoutpansberger van 6 Februarie het die munisipaliteit reeds begin met die adverteer van 17 poste in dié verband.
Wat die haglike toestand van die dorp se rioolstelsel betref, het Luruli bevestig dat hulle uiteindelik in Januarie vanjaar die lank-beloofde R13 miljoen vir die opgradering van die plaaslike rioolsuiweringsaanleg ontvang het en dat daar nou in alle erns begin kan word met herstel- en opgraderingswerk.
Dit is geen geheim nie dat heelwat meer geld nodig sal wees vir die opgradering van die dorp se rioolstelsel nie.
Baie is ook die afgelope jaar gedoen ten opsigte van die opgradering van die watervoorsieningspypleiding vanaf die Albasinidam na die dorp se reservoirs. Die swak toestand van die watervoorsieningsnetwerk van die reservoirs na woonhuise is egter steeds ‘n groot bron van kommer. Duisende liter water gaan verlore vanweë ‘n verbrokkelende sisteem. Luruli het gesê dat alhoewel die opgradering van die dorp se ondergrondse watervoorsie-ningsnetwerk nie in die huidige begroting ingesluit is nie, dit wel in die toekoms aandag sal geniet.
Wat elektrisiteitsverskaffing betref, is kontrakteurs reeds besig met die opgradeer van die sentrale toevoerlyn na Louis Trichardt en industriële area en alhoewel dit kort-kort lei tot kragonderbrekings, sal die projek by voltooiing ‘n meer stabiele kragtoevoer aan die dorp verseker.
Om terug te kom na die gesegde ... Vir hoe lank die nuwe besem gaan skoon vee, is onseker, aangesien baie meen dié “skielike” verbetering in dienslewering is niks anders as ‘n poging om die regerende ANC-party hier kort voor die algemene verkiesing te laat goed lyk nie. Intussen gaan die SBBV voort met hul protesaksie en beoog om vanaf einde Februarie te begin met belastingweerhouding. Ten spyte van hierdie sieninge en protesoptrede het Luruli gesê dat hulle volle verantwoordelikheid wil aanvaar as regering, maar dat daar wedersyd-se respek vir mekaar moet wees.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
