

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 February 2009
Die Suid-Afrikaanse voertuigmark het ook nie die negatiewe impak van die wêreldwye resessie vrygespring nie, met talle motorhandelaars, in beide die nuwe en tweedehandse mark, wat maar sukkel om kop bo water te hou.
Voertuigverkope het skerp gedaal, met die situasie wat verder vererger word deur streng nasionale kredietwetgewing en hoë rentekoerse. Te midde hiervan is daar egter steeds handelaars wat goeie verkope handhaaf en wat kan spog met uitmuntende diens.
Een so ‘n handelaar is Werda Toyota op Louis Trichardt. Hulle het tydens Toyota Suid-Afrika se nasionale toekennings vir Toyota handelaars verlede week in Durban met verskeie top toekennings weggestap.
Werda Toyota is aangewys as wenner in die medium kategorie vir handelaars landwyd. Sowat 130 ander Toyota-agentskappe het in dié kategorie, wat beslis word op grond van nuwe voertuigverkope (50 en meer ‘n maand), omset en werkswinkelbestuur, gekompeteer. As deel van die prys het besturende-direkteur Eddie Schlesinger en sy vrou, Seretha, ‘n twee-weke-lange vakansie in Turkye in Junie vanjaar gewen.
Werda Toyota se werkswinkelbestuurder, Charl Venter, is op sy beurt deur Toyota SA aangewys as beste werkswinkelbestuurder landswyd uit sowat 250 deelnemende agentskappe. Beoordeling in hierdie kategorie geskied op onafhanklike basis, met werkswinkelbestuurders wat evalueer word op grond van totale omset, bestuur en natuurlik diens en kliëntetevredenheid. As deel van Charl se prys wen hy en sy vrou, Frieda, ‘n ses-dag-lange vakansie na Mauritius in Mei vanjaar. Charl het ook ‘n addisionele toekenning ontvang as een van die Top Tien werkswinkelbestuurders in die land.
Nog ‘n lid van Werda Toyota wat erkenning ontvang het, was verkoopsbestuurder Willie Venter. Hy eindig as naaswenner in die beste verkoopsbestuurder afdeling in die medium kategorie van die kompetisie. In hierdie afdeling word deelnemers beoordeel bloot op grond van hulle nuwe voertuigverkope asook kliëntetevredenheid. As deel van sy prys gaan hy en sy vrou, Winnie, vir vyf dae kuier by Kapama Lodge naby Hoedspruit.
Dan is daar ook erkenning gegee aan Gert Coetzee van Werda Toyota se Automark-afdeling vir tweedehandse voertuie. Gert het ‘n sertifikaat ontvang as een van die Top 10 bestuurders in die medium kategorie met beoordeling wat ook op grond van verkope, diens en kliëntetevredenheid plaasgevind het.
“Ons wil net vir ons kliënte, ten spyte van die huidige ekonomiese toestande, dankie sê dat hulle lojaal bly teenoor ons en dat dit, weereens ten spyte van die swak ekonomie, nog goed gaan met Werda Toyota,” het Schlesinger Maandag gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
